Piet van der Walt, beter bekend as Piet Plantelus. foto: anika de beer

DAAR was geen ander kwekery op die dorp toe Piet en Lenie van der Walt die deure van Plantelus-kwekery hier oopgemaak het nie.

En vandag, presies 31 jaar later, staan hulle – en die kwekery – steeds sterk.

Piet en Lenie het vakansie in Jeffreysbaai gehou in November 1989 toe hy begin soek het na die regte plekkie om sy kwekery te skuif. Op 1 April 1990 maak Plantelus oop by Kersie-sing-el 19 waar hulle steeds geleë is.

“Ek klim met hart en siel in, met hart en siel,” sê Piet. “Daar kom toe 23 treintrokke vol plante hier aan. ’n Man in Phalaborwa het my vrag hierheen betaal.”

Hy het ’n tuindienste begin terwyl sy vrou haar hand op die kwekery gehou het.

“Ek het toe net twee mannetjies by my gehad. Met tyd, het ek myself opgewerk en ná twee jaar toe sit ek met 14 manne,” vertel hy.

Hy is trots dat hy vandag nog van die werk kan sien wat hy toé al gedoen het.

Piet het sy kwekery ná 13 jaar na Jeffreysbaai geskuif en spog al met 44 jaar in die industrie. En hy geniet dit nou meer as ooit.

“Ek is nie meer net ’n kenner van plante nie, ek is al ’n dokter,” lag hy.

Piet het al sy kliënte bedank vir hulle ondersteuning deur al die jare.

Hy vertel dat wanneer hy besluit om die kwekery in iemand anders se hande te los, hy nie van plan is om Jeffreysbaai te verlaat nie en hy steeds sy hande in die grond gaan hou.

Tot dan, hou hy aan om die werk van sy groen vingers met ander te deel deur die kompos, kruie, groente, vetplante, blomme en vele meer wat hy by die kwekery groei en verkoop.

En moenie vergeet om ’n draai te maak by die welbekende Lentefees wat Plantelus vanjaar terugbring, vir twee weke in April, en later weer in Oktober.

  • Plantelus-kwekery is geleë by Kersie- singel 19 in Jeffreysbaai. Kontak hulle by 076 679 7261.

COVID-19 reëls en regulasies word streng toegepas. Maskers is ’n moet en ontsmettingsmiddel (sanitiser) is by die ingang.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article