Antoinette Venter het verskeie publikasies op haar kerfstok.

Foto: Verskaf

Drie skrywers van Jeffreysbaai, Antoinette Venter, Louise Viljoen en Ellen Margaret Hancke, hou op 10 Desember om 10:00 ’n boekbekendstelling in die Arthur Fennell-saal by Marina Martinique.

Die skrywers gaan oor hul nuutste boeke gesels en daaruit voorlees.

Verskeie uitgewers borg fantastiese boekpryse en van die gaste gaan daarmee bederf word. Die skrywers se boeke is te koop en hulle sal graag kopieë teken. Daar sal ook verversings wees.

Antoinette Venter

Antoinette Venter, ’n professionele rekenmeester, geregistreerde belastingkonsultant en eienaar van Blue Whale Accounting & Tax, het verskeie publikasies op haar kerfstok.

Sy gaan by die bekendstelling veral fokus op die tweede boek in haar reeks (Protea Boekhuis, 2022) vir kinders 9 tot 12 jaar oud getiteld Die profesie van die bloedpêrel wat volg op die baie gewilde Die geheim van die bloedsteen.

Antoinette Venter het verskeie publikasies op haar kerfstok.

Louise Viljoen

Louise Viljoen is ’n taalpraktisyn, manuskripontwikkelaar en boekresensent.

Sy is onlangs deur die Afrikaanse Woordkunsakademie met die Orde van die Beiteltjie vereer vir haar volgehoue geesdrif, betrokkenheid, deelname en eiesoortige sigbare resultate met verskeie aspekte van die Afrikaanse woordkuns in gemeenskapsverband.

Sy het al verskeie boeke gepubliseer maar sal fokus op haar gewilde geestelike boek getiteld Gesinstyd met God (LUCA, 2022).

Louise Viljoen met haar boek, ‘Gesinstyd met God’.

Ellen Margaret Hancke

Ellen Margaret Hancke, oudjoernalis en -fotograaf en stigter van die Facebook-groep Carpe Noctem Gloria, se digkuns is in meer as 40 publikasies gepubliseer.

Sy gaan gesels oor haar eerste solodigbundel getiteld Klief (Kreativ SA, 2019). Dit het 315 bladsye en meer as 250 gedigte, waarvan sommige met toekennings vereer is.

Ellen Margaret Hancke.
Ellen Margaret Hancke se boek ‘Klief’.
  • Diegene wat die boekbekendstelling wil bywoon, moet hul naam WhatsApp na 066 299 8617 teen 7 Desember.
  • Om bestellings te plaas vir getekende eksemplare van enige van die boeke, kan dieselfde nommer gebruik word.Die moontlikheid bestaan dat nog skrywers die bekendstelling gaan bywoon.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article