Louise Viljoen, ’n skrywer, taalpraktisyn en boekresensent van Jeffreysbaai, se geestelike boek getiteld Gesinstyd met God het pas by LUCA, ’n druknaam van LAPA Uitgewers, verskyn.
Hierdie gids rus gesinne toe om God binne gesinsverband te dien. Viljoen gee praktiese wenke en voorstelle oor hoe om gesinstyd met God spesiaal te maak en stel opwindende aktiwiteite voor. Daar is ook weeklikse oordenkings oor Christelike karaktertrekke wat gesinne help om geestelik te groei en met integriteit te leef. Die oordenkings bied gesinne die geleentheid om deeglik oor elke karaktertrek te besin en dit toe te pas.
Die 52 aktiwiteitsbladsye (met plek vir foto’s en aantekeninge) waarop gesinne hulle jaarlikse ge-loofsreis kan dokumenteer, maak van die boek ’n kosbare familie-erfstuk.
Viljoen bied ’n stewige, Skrifgefundeerde grondslag oor waarom dit vir gesinne noodsaaklik is om saam tyd met God te spandeer.
Sy kwoteer honderde Bybelverse ter stawing sodat gesinne die wonder van God se Woord opnuut kan ontdek. Sy glo dat sodra gesinslede hulle identiteit in God ontdek en besef dat hulle geliefde Koningskinders is, hulle met verwagting kan uitsien na hul afsprake met God.
Dit is Viljoen se gebed dat gesinne God se Vaderhart sal ervaar en daarom het sy Gesinstyd met God geskryf.
“Dit is gelowige ouers se plig om hulle kinders met eerbied vir God groot te maak. Wanneer ons God se hart ken, wil ons Hom spontaan verheerlik. Gesinstyd met Hom is dan nie bloot ’n plig nie, maar ook ’n heerlikheid waarna ons uitsien,” vertel Viljoen wat nagraads in teo-logie studeer.
“So baie ouerhuise het in oorlogsones ontaard. Gesinstyd met God herinner ons dat daar redding, heling en restourasie in God is. Die vrug van die Gees is immers “liefde, blydskap, vrede, lankmoedigheid, vriendelikheid, goedheid, getrouheid, sagmoedigheid, selfbeheersing” (Gal. 5:22b). As gesinslede hierdie karaktertrekke teenoor mekaar begin openbaar, sal dit spontaan verder uitkring na ons werksplekke, skole en gemeenskappe.”
Sy het gelowige kundiges genader om raad. Dr. Ronél van der Watt, ’n kindersielkundige, dr Gerdi van den Berg, ’n kognitiewe gedrags- terapeut en berader, en Jacolene du Plooy, ’n spelterapeut, is van dié wat waardevolle bydraes gelewer het.
Gesinstyd met God kan ook inge-span word by gesins- of huweliksberading waar ouerskap bespreek word, vir kerke se huisgelooftyd-aktiwiteite en vir gebruik deur klein-groepies.
Dit is by toonaangewende boekwinkels beskikbaar en kan ook aanlyn bestel word.
- Een gelukkige inwoner van Jeffreysbaai kan ’n getekende kopie van Gesinstyd met God wen. Om in aanmerking te kom, stuur ’n e-pos met “Gesinstyd” in die onderwerpveld na kougaexp@media24.com. Verskaf jou naam en kontaknommer.
– BERIG VERSKAF



