Plaaslike apteker Lésa Seeney is onlangs deur die Hoërhuis van die Parlement, die Nasionale Raad van Provinsies (NRV), vereer vir haar uitsonderlike,onselfsugtige en uitstaande diens aan die Oos-Kaapse gemeenskap. Die oorkonde van vermelding en gelukwensing is deur Henni Britz, die plaaslike DA Parlementslid aan Seeney oorhandig.

Foto: Verskaf

’n Plaaslike apteker van die Kouga, Lésa Seeney is onlangs deur die Hoërhuis van die Parlement, die Nasionale Raad van Provinsies (NRV), vereer vir haar uitsonderlike, onselfsugtige en uitstaande diens aan die Oos-Kaapse gemeenskap.

Die oorkonde van vermelding en gelukwensing, uitgereik en onderteken deur die Voorsitter van die Raad van Provinsies, is deur Henni Britz, die plaaslike DA Parlementslid aan Seeney oorhandig. Britz het die mosie van vermelding en gelukwensing in die Parlement ter tafel gelê, en dit was eenparig deur alle lede van die NRP aanvaar.

Hierdie uitsonderlike eer het Seeney te beurt geval as gevolg van haar visie om ’n kliniek vir die landelike gemeenskap van Oesterbaai en die nabygeleë Umzamowethu gemeenskap op die been te bring.

“Die uiteinde van hierdie visie was die totstandkoming van die Oyster Bay Healing Centre (Oysterbay Pharmacy) in Umzamowethu. Die droom het vlerke bygekry, en in die proses het verskeie individue en instansies bygekom en het finansies, dienste, goedere en ander hulpbronne bygedra. “Hierdeur het die aanvanklike visie voorwaar ’n gemeenskapsprojek geword. Skenkings deur die boeregemeenskap, individue, weldoeners, asook die Oesterbaai Windplaas, het die bou van ’n kliniek moontlik gemaak. Kouga Windplaas is sedert 2023 by die projek betrokke, en die Kouga Windfarm Community and Development Trust skenk toerusting soos verkoeling, yskas vir immunisasies en kouelyn medisyne, apteek sagteware en vele meer in,” het Britz in ’n verklaring gesê.

Die kliniek het gemeenskaps- sowel as tuisgebaseerde werknemers in diens, en ’n wye verskeidenheid dienste word aangebied, onder andere TB en HIV toetse, bloeddruk, cholesterol, suiker (diabetes) en swangerskapstoetse, dwelm toetse, en selfs toetse om urienweginfeksies en nier- en lewerfunksies te toets. In samewerking met die Humansdorp, KwaNomzamo mobiele eenheid word inligtingliteratuur versprei, en word medikasie in noodgevalle afgelewer. In samewerking met die Healthy Mom and Baby Clinic word skanderings verrig, en inligtingsessies oor onderwerpe soos borsvoeding en kindergesondheid word gedek.

Seeney het by ontvangsname van die oorkonde alle instansies en die individue, soos Herman Stoffberg bedank, wie meegewerk het om haar ideaal van die Oyster Bay Clinic ’n werklikheid te maak.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article