FREDDIE van Rooyen (37) groet hartlik toe ons wegtrek vir ’n besoek aan ’n paar geskiedkundige plekke in Pellsrus, Jeffreysbaai.
Die historiese visserman begraafplaas teen die see is die eerste stop. Van Rooyen wys na die grafsteen van een van die ou vissermanne tussen die lang gras. Toe ons wegry, mor hy oor die geroeste roldraad rondom die res van die perseel wat afsteek teen die netjiese vooraansig met die marmer-naamborde op die grys muur.
Op die muur lui die gedenksteen: “This stone is dedicated to the Pellsrus Fisherman. . .”
Van Rooyen verduidelik, “Dit is hier waar die ou vissermanne en hul families lê wat Jeffreysbaai begin het. Dit was Pellsrus se eerste begraafplaas.”
Net terug (waar Viswijf nou is) was die ou bootwerf van die vissers. “Die skuite het hier uitgekom en is op die hoofstrand ter see gelaat.”
Agter die historiese rusplek rys groot bosse op die duin. Volgens Van Rooyen is dit waar die bosslapers wegkruip. “Ons sou dié area omhein wou hê eerder as die swempark.”
In die ry, groet hy de laaste straatloper en stoepsitter. Ons hou stil op ’n oop lappie grond wat lyk soos ’n vuilgoedhoop, maar agter dit lê die Pells-begraafplaas. Oorgroei, heining uitgetorring en geskend . . .
Die marmer grafsteen van William Pell (en sy vrou), na wie Pellsrus vernoem is, lê omgeval, terwyl ’n ander onderstebo en verweer is. Van Rooyen beywer hom vir die behoud van dié plekke.
Ons gee om
Juis omdat hy omgee, het hy in 2017 die nie-winsgewende organisasie, Msikhathalelaneni, gestig. Dit beteken: Kom ons gee om vir mekaar.
Dit was aanvanklik met die oog op die nood in die werkmark begin. Die benadering is om nie net mense te ontwikkel nie, maar om die hele persoon en hulle wêreld te verander. Mens kan nie een deel verontagsaam nie.
Van Rooyen sê: “Dit is nutteloos as iemand ses jaar in ’n lae posisie in ’n maatskappy sit en nooit toegerus word om bevorder te word nie. Hoe spreek ons die sake aan? Hoe belê ons in die mense om hulle te bemagtig?”
Dit is volgens hom onsinnig om nié die hele konteks van mense in ag te neem nie. Van Rooyen sê dat die agtergrond van elke situasie geld. “Dit help nie ek gee iemand brood, maar weet nie of hy honger of vol is nie. Mens moet eers vasstel wat die behoefte is.”
Gees, siel en liggaam tel! “Ons kon ’n vrou bemagtig wat in die moeilikheid was, omdat sy ’n ‘wilsgees’ gehad het. Sy wóú iets doen; al is dit vrywilligheidswerk.”
Langs sy huis word ’n opleidingsentrum opgerig met gemeenskapsdiens en geïntegreerde krisishulp vir gevalle waar huise byvoorbeeld brand. Die span van nege werk ook saam met die Pellsrus-kliniek om siek mense van kos te voorsien. “Op die wyse maak ons seker hulle kry voeding en medikasie, en voorkom die rimpeleffek dat ander aangesteek word,” sê hy. “Ons kry baie privaatskenkings, en het met die pandemie gesien dat Jeffreysbaai werklik soos geen ander dorp in die land, in ’n krisis kan saamstaan en na mekaar omsien.”


