JEFFREYSBAAI – Pieter Pretorius, die Pellsrus-gewigoptelklub se afrigter, het sy span vroegtydig aangekondig wat Kouga en die Oos-Kaap in Julie by die Suid-Afrikaanse o.14-, jeug- en junior-kampioenskappe sal verteenwoordig.
Hy sê die vroeë spanaankondiging is omdat die spanlede reeds kort na verlede maand se nasionale kampioenskappe met maandelikse proewe begin het en die lede reeds goed op dreef is.
“Die gekose atlete is tans in top-vorm nadat hulle deur die Desember-vakansie geoefen het en duidelike doelwitte het vir die jaar. Verlede jaar was ‘n briljante jaar vir die klub, en ons wil vanjaar nog beter doen. Alle tekens is daar dat die rekords gaan spat,” het Pretorius gesê.
Die span se eerste toets sal die Kouga-streekkompetisie op 21 Maart op Humansdorp wees, gevolg deur die Oos-Kaapse kampioenskappe en dan die Suid-Afrikaanse kampioenskappe.

Die spanlede:
- Seuns: Chester Karolse (o.8), Kenneth Mandeka (o.8), Declan Titus (o.10), Ruwellyn Bantom (o.12), Lumar Karolse (o.14), Jason Hallem (o.14) en Marlin Matthews (o.14).
- Meisies: Junique Windvogel (o.14)
- Jeug: Theolien Ruiters
Met hul visier op sukses, maak die Pellsrus-span gereed vir ‘n sterk vertoning vanjaar en van die beste vertonings sedert Covid kan verwag word.
Pretorius sê die spanlede is geestelik sterk en oefen gereeld met groot vasberadenheid.





You must be logged in to post a comment.