’N SPLINTERNUWE spogskool in Patensie wat meer as ’n jaar lank toegestaan het, het onlangs eindelik sy deure vir meer as 400 leerders geopen.
Die vier primêre skole in die omliggende omgewing, De Mistkraal, Andrieskraal, Du Preez Primêr en Cockscomb Primêr, het almal saamgesmelt om dié skool, wat Baviaans Kouga Academy heet, te vorm.
Die skool het tans 438 leerders en 13 opvoeders en daar is twee klasse per graad. Die skoolhoofde van die vier skole sal op ’n rotasiebasis werk totdat die nuwe hoof volgende jaar op die eerste dag van die tweede kwartaal begin.
Kouga Express het voorheen berig dat die skool, wat deur die onderwysdepartement as deel van die nasionale versnelde skole-infrastruktuurleweringsinisiatief (ASIDI) gebou is, sedert Mei 2014 in die pyplyn is teen ’n aanvanklike koste van R49 miljoen en ’n 35-maande konstruksietyd. Alhoewel konstruksie reeds einde 2019 voltooi is, is die sleutels eers in Maart vanjaar aan die onderwysdepartement oorhandig – nadat alle kontrakteurs betaal en die elektrisiteitsverbinding afgehandel is.
Kouga Express het ook voorheen berig dat die opening van die skool ook vertraag is deur onvoldoende vervoer vir leerders, die aanstel van ’n skoolhoof en die feit dat die skool nog nie ’n naam gehad het nie. Intussen moes minderbevoorregte leerders klaar-kom met vervalle klaskamers en onvoldoende infrastruktuur.
Die multimiljoenrand-skool het ook intussen begin agteruitgaan, met oorgroeide onkruid op die sportveld en verf wat van die netbalbaan afdop.
Plaaslike raadslid, Henni Britz, het onlangs die opwindende nuus gedeel dat die skool ’n naam gekry het en hoewel daar nie ’n amptelike bekendstelling was nie, vind onderrig reeds plaas.
Volgens hom het afgeleë plattelandse gebiede, soos die verre Baviaans, Andries-kraal en Condolo in Patensie, vir té lank aan die agterste droë speen van die Oos- Kaapse Departement van Onderwys gesuig wanneer dit kom by geboue en geriewe.
“Leerders van hierdie afgeleë gebiede was dikwels ontneem van behoorlike, toe-reikende geriewe en geleenthede. Die haglike omstandighede waaronder die kinders vir jare moes skoolgaan en onderwysers moes werk, was nie net onnodig nie, maar ook onaanvaarbaar.
“Ek het etlike jare gelede al betrokke ge-raak by De Mistkraal Primêre Skool en gedoen wat ek kon om die kinders en perso-neel by te staan. Hul pleidooie vir beter en toereikende geriewe het my nog altyd na aan die hart gelê,” het Britz gesê.
“Volgehoue druk en vasberadenheid om skole soos hierdie se lot te verlig, het nou vrugte afgewerp met die verskuiwing van die leerders na die nuwe skoolgebou. Ek is saam met die skoolhoofde, personeel en leerders verheug dat hierdie skool nou uit-eindelik in gebruik is en die leerders uit-eindelik gehalteonderwys kan ontvang in ’n moderne, toegeruste instelling. Die toekoms van enige land en nasie lê uiteindelik opgesluit in die onderwys en oplei-ding wat sy kinders ontvang,” het Britz bygevoeg.
Distriksdirekteur vir onderwys, Nkosinathi Godlo, het bevestig dat die vier skole se leerders op 2 November by die nuwe gebou begin skoolloop het. Volgens hom is alle logistiek, asook leerderver- voer deur die distrik uitgesorteer.
“Die skool is tans oop en funksioneel en daar is leerders vanaf graad R tot sewe. Die dertien opvoeders is ook almal in klaskamers besig om klas te gee,” het Godlo gesê.
DA-skaduminister van onderwys, Yusuf Cassim, wat onlangs vir ’n oorsigbesoek by die skool was, het gesê dat hy ingenome is omdat die leerders nou hul nuwe skoolgebou kan geniet. Hy het genoem dat hy tydens die oorsigbesoek sy kommer gelug het teenoor die verteenwoordigers van die onderwysdepartement wat saam met hom daar was.
“Hierdie amptenare het belowe dat die skool binnekort gereed sou wees en ek is bly dat hulle by hul woord gehou het.
“Ek is dankbaar dat hierdie leerders nou hul akademiese aktiwiteite kan voortsit in ’n skool wat bevorderlik is vir leer en onderrig. Hierdie nuwe instansie met beter geleent-hede sal leerders help om vorentoe te beweeg in die lewe en hul drome te verwesenlik.”



