’n 70-JARIGE man het Sondagaand ’n kopskoot deur plaasaanvallers, wat hom uit sy huis net buite Patensie in die Oos-Kaap ontvoer het, oorleef en is in die hospitaal.
Minstens drie rowers het hom en sy vrou, wat van ’n rolstoel afhanklik is, omstreeks 20:00 in hul huis oorval.
Die polisie het Maandagoggend reeds drie mense op die N10 vasgetrek wat, volgens hul voorlopige ondersoek, met die voorval verbind kan word.
Brig. Tembinkosi Kinana, polisiewoordvoerder, sê die egpaar het wakker geword van geluide in die huis, waarna die rowers hulle met vuurwapens gedreig en toe die huis vir waardevolle items deursoek het.
Die polisie ontken ’n bewering dat die vrou aan haar rolstoel vasgebind is voordat haar man ontvoer is.
Die rowers het hom by sy Volkswagen Golf ingedwing en glo na twee kitsbanke, onderskeidelik in Jeffreysbaai en Humansdorp geneem, waar hulle geld uit sy bankrekening onttrek het.
Volgens ’n bron het die rowers nog ’n ruk daarna met die man rondgery en drank gekoop. Hy is daarna na die bosse in ’n afgeleë gebied naby Humansdorp geneem en geskiet en vir die dood agtergelaat, het Kinana gesê.
“Die man het daarin geslaag om by ’n pad uit te kom, waar polisielede in ’n voertuig hom gesien en gehelp het.”
Intussen het die polisie ’n beskrywing van die man se gesteelde Golf-motor versprei.
Polisielede van Kookhuis het sy motor Maandag omstreeks 05:00 op die N10, sowat 250 km van Humansdorp af, gesien en voorgekeer.
Kruideniersware en ’n televisiestel is onder meer in die motor gevind. Daar is ook op twee onwettige vuurwapens en ammunisie beslag gelê.
Volgens die polisie sal vasgestel word of enige ander mense ook by die aanval betrokke was.
Die drie beskuldigdes, tussen 20 en 33 jaar oud, sal na verwagting binnekort op aanklagte van poging tot moord, huisroof, die besit van vermoedelik gesteelde goedere, asook die onwettige besit van vuurwapens en ammunisie in die hof verskyn.



