KAPTEIN Nico Stander, van FCS in Humansdorp waarsku plaaslike inwoners om nie vir ’n selfoonslenter te val nie.

Dit is onder sy aandag gebring dat lede van die gemeenskap geteiken word deur sindi-kate wat hierdie slenters in die Kouga omgewing bedryf. Volgens Stander, kan enigiemand ’n teiken wees van hierdie kuberkriminele, maar mans word glo meer geteiken as vroue.

Hoe werk hierdie slenters?

  • Die persoon wat geteiken word, word deur ’n onbekende nommer gekontak, gewoonlik deur middel van ’n boodskapprogram soos WhatsApp.
  • Die persoon wat die boodskappe stuur doen hulself gewoonlik voor as ’n jong dame, maar is in werklikheid gewoonlik mans.
  • Daarna word geselsies aangeknoop, en daar word van albei kante af geflikflooi.
  • Die “jong dame”met wie die slagoffer gesels stuur vir hom eksplisiete foto’s van haarself, en versoek dan dat die slagoffer ook dieselfde tipe foto’s stuur.
  • Sodra die foto’s gestuur is word die sluier gelig en begin die lid van die sindikaat die slagoffer afpers met die dreigement dat die foto’s aanlyn gedeel of aan sy kontakte ge- stuur sal word indien hy nie die vereisde bedrag betaal nie.
  • In baie gevalle betaal die slagoffer die losprys, maar die dreigemente hou nooit op nie.

Stander waarsku: “’n Baie belangrike ding om te onthou, is dat daardie foto’s nooit werklik verhaal kan word nie. As jy eers so ’n tipe foto van jouself met iemand gedeel het via enige digitale platform is die digitale voetspoor daarvan ‘uit’.

“Dit is maklik om iemand te dwing om een kopie van die foto uit te wis, maar daardie foto’s bestaan dan vir altyd in die kuberruimte. Hierdie foto’s word ook dikwels op pornografiese webtuistes gelaai. Dit is soos om Pandora se boks oop te maak. ’n Mens kan nooit weer alles terugsit nie.”

Die kubermisdaadafdeling van die SAPD kan hierdie misdadigers naspoor en die sindikate vastrek, maar die tragedie daarvan is dat al word die misdadigers gedwing om aan die pen te ry, is die slagoffers se privaatheid vir ewig geskend en daar is in baie gevalle onherroepbare skade aan die persoon, sy familie en verhoudings gedoen.

Onthou die volgende:

  • Moenie geselsies aanknoop met onbe-kende mense oor WhatsApp nie.
  • Moet nooit foto’s van jouself deel wat dalk teen jou gebruik kan word nie.
  • In realiteit gebeur dit nie dikwels dat pragtige jong dames ouer mans uit die bloute per WhatsApp kontak nie. As dit te goed klink om waar te wees, is dit waarskynlik.

“Hierdie slenters in ongelukkig nie net beperk tot die foto’s en afpersery nie. Sodra die sindikate die slagoffers in hul strik gevang het, kry hulle toegang tot die slagoffer se sel-foon, wat deesdae banktoepassings, wag- woorde en persoonlike inligting bevat.

“Wees dus waaksaam en hou ons gemeenskap veilig teen kuberboewe.”

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article