Die gevestigde Palet Kunsgalery wat al 24 jaar in Jeffreysbaai kuns-plesier verskaf, het verskuif van die perseel naby die see, na ’n gerieflike lokaal in Jacarandastraat (oorkant die ou Vrieskas).
Kleurvolle inspirasie
Die kleurvolle plek lok mens in en inspireer enigeen om die kwas op te tel, mosaïek te doen, of self ’n kunsjoernaal te maak. Daar word klasse aangebied vir beginners wat nog nooit ’n hand gewaag het aan kuns nie, tot ervare kunstenaars wat graag saam wil sit en skilder.
“Ons stal kwaliteit kuns uit van plaaslike kunstenaars wat te koop is. Hier kan jy ook onderrig ontvang in olie- of waterverf skilder, en allerlei ander bekostigbare werkswinkels,” het Liezel de Lange opgewonde gesê. Kunstenaars van elders word soms genooi om praatjies te kom lewer of kursusse aan te bied.
Geen ervaring nodig om te leer nie
“Julie is juis internasionale waterverf-maand. ’n Gratis demonstrasie word aangebied en dié wat dit bywoon sal huis toe gaan met ’n klein kunswerk wat hulle self gemaak het. Op ’n Donderdag doen ons ’n kunsjoernaalklas. Dit is veral geskik vir mense wat nie ’n skoon skilderdoek wil aanpak nie. Kunsmateriaal word voorsien, en elkeen werk op ’n bladsy in ’n ou boek om gevoelens uit te druk, ’n gebeurtenis te herdenk of net iets moois weer te gee. Basiese kunsteg-nieke word onwetend geleer, en voor jy jou oë uitvee kan jy skilder! Dit is regtig baie terapeuties, en geen kunservaring is hiervoor nodig nie,” verseker Liezel.
Op een van die bladsye in ’n voorbeeldboek is ’n aanhaling geplak: “Painting is silent poetry, and painting is poetry that speaks”.
Gee die brein ’n blaaskans
Liezel sê om kuns te maak, raak die geraas in jou kop stil, jou emosies word heel en bring die brein weer in balans en gee die brein ’n blaaskans. In die tydjie wat jy hier besig is, vergeet jy van alles!
“Ons wil graag hê die galery moet ’n kreatiewe en toeganklike plek wees om jouself te kom uitleef. Die plesier is daar vir almal – kuns is nie eksklusief nie!”
Kompetisie gaan ook aangebied word by die kreatiewe spasie, waar tien kunstenaars deel is van die Kouga Arts Society. Indien iemand ’n spesifieke kunswerk wil laat maak, is hierdie die ideale kans om dit by ervare kunstenaars te bestel.
Besoek die galery
Vydag 21 Julie word die ‘nuwe’ galery geopen. Belangstellendes wat dit graag wil bywoon, moet vooraf bevestig by Hope by 082 929 9490.
Tussen 16:00 tot 20:00 sal daar ge-lukkige trekkings wees, versnaperings en drinkgoed, en die mooiste kuns om jou aan te verlustig.
Bly op hoogte van hul aktiwiteite op hul facebookblad: Palette Art Gallery. Dis daagliks oop van 10:00 tot 16:00. Enigiemand is welkom om die galery te besoek. Kontak Liezel gerus by 083 578 4104.




