’n Besonderse Paasuitstalling bestaande uit ’n verskeidenheid kunswerke deur die Gamtoosvallei-gemeenskap is volgende week op Patensie te sien.
Die kunswerke wissel van skilderye en sketse tot lewensgrootte beelde. Daar sal verskillende stasies wees waar die lewe en dood van Jesus op aarde uitgebeeld word.
Dit bied ’n geleentheid vir interaksie en nagmaal sal ook by een fokuspunt bedien word. Atmosfeer word geskep met beligting, kerse en lampies.
Kunstenaars en organiseerders Erika Ferreira en Marlie Viljoen werk volstoom om alles vir die gebedsreis gereed te kry.
“Ons is dankbaar vir die mense van die Vallei wat ons ondersteun en help. Ons het twee jaar gelede die eerste Paasuitstalling gehou. Hierdie is die tweede uitstalling en ons hoop om dit ’n jaarlikse geleentheid te maak,” sê Marlie.
Die Paasuitstalling op Patensie is in NG Kerk Gamtoos-Oos se kerksaal te sien. Dit is oop op Sondag, 2 April na die kerkdiens van 10:00 tot 12:00; en ook van 3 tot 7 April tussen 10:00 en 19:00.
Volgens Marlie beloof die uitstalling om ’n onvergeetlike ervaring te wees.
Dit neem minstens ’n uur om die uitstalling deur te stap en besoekers word gevra om ’n flits saam te neem.





