LANGNAWEKE is heerlike gesinstyd vir almal, tog kan dit soms ’n uitdaging wees om die kleinspan besig te hou sonder om ma en pa se beursies ’n ernstige knou te gee. Hier volg ’n paar koste-effektiewe idees om die kinders hierdie paasnaweek mee besig te hou.
Paaseiersoek
Om paaseiers weg te steek en te soek is altyd ’n lekkerte. Steek paaseiers in die tuin weg, of indien jy nie ’n tuin het nie, gaan na jou naaste park. Hou dan sommer ’n piekniek ook as die weer dit toelaat.
Wenke:
- So iets is altyd meer pret as dit met maats gedeel word. Kry ’n paar ander ouers en koop saam ’n boks malvalekker-paaseiers. Sodoende is dit vir almal bekostigbaar en hope pret. Bonuspunte vir ’n pa wat soos die paashaas aantrek.
- Onthou om te tel hoeveel paaseiers weggesteek word om te verseker dat almal weer gevind word. Al die kinders soek paaseiers en dit word gelykop gedeel as die speletjie verby is.
- Vir jonger kinders kan ballonne aan die paaseiers vasgemaak word. Dit is dan vir hulle makliker om die ballonne te soek.
Maak ’n paashaas-waslapgeskenkie vir iemand
Dit is belangrik dat kinders leer om te gee sowel as om te ontvang. Hierdie is ’n aktiwiteit wat hulle maklik kan doen en baie geniet. Om vir ouma (of tannie, of juffrou) ’n handgemaakte-paashaas te gee is ’n ekstra lekkerte.
Benodigdhede:
’n Waslap
’n Rubber-rekkie
’n Stukkie lint
’n Klein pompom
Koue lym of enige sterk gom
Opsioneel: Plastiek ogies
Doen dit so:
- Plaas die waslap op ’n plat oppervlakte voor jou neer sodat een van die punte na jou toe wys, soos ’n diamant.
- Begin nou om die waslap van die punt wat na jou toe wys op te rol. Rol die hele waslap op en doen dit so styf as moontlik.
- Vou nou die gerolde waslap in die helfte sodat die twee punte bymekaar kom.
- Vou die waslap weer in die helfte sodat die twee los punte bo-op die toe kant is.
- Maak die waslap met ’n rekkie vas, onge-veer 3cm van die punt af. Dit is die hasie se gesig.
- Bind ’n lintjie om die hasie se nek om die rekkie te verbloem.
- Plak ogies met koue lym op die hasie se gesiggie.
- Plak die pompom met dieselfde gom op die agterkant van die hasie sodat dit soos ’n stertjie lyk.
Bak en brou
Nie net is bak en brou hope pret nie, maar vir jonger kinders ontwikkel dit beide groot- en kleinmotoriese vaardighede wanneer hulle met klein vingertjies roer, klits en rol. Vir ouer kinders is dit natuurlik ’n wonderlike geleent-heid om te leer van meet, volumes en wetenskaplike termes soos vaste stowwe en vloei-stowwe. Moet dus nie die waarde van bak saam met jou kind onderskat nie.
Probeer hierdie vinger-aflek-lekker resep:
Smartie-koekies
Bestanddele:
125g sagte botter
180ml strooisuiker
5ml vanieljegeursel
1 eier
375ml bruismeel
100g Smarties
Metode:
- Sit bakpapier op twee bakplate.
- Klits die botter, suiker, vanieljegeursel en eier in ’n mengbak totdat dit lig van kleur is.
- Gooi nou die meel by en klits goed totdat alles gemeng is.
- Druk dit met jou hande bymekaar totdat dit soos klei lyk.
- Neem twee poedinglepels van die deeg en rol dit in ’n balletjie.
- Plaas die balletjies so 5cm uitmekaar op die bakplaat en druk dit liggies plat met ’n vurk.
- Druk nou so 3 smarties liggies in elke koekie.
- Bak vir 15-20 minute teen 180°C.
- Laat die koekies afkoel op die bakplaat.
Teepartytjie!
’n Teepartytjie is die perfekte geleentheid om die koekies wat die kleingoed pas gebak het, ten toon te stel. Dek ’n mooi, kindervriendelike tafel. Sjokoladepaaseiers en die waslap-paashase lyk pragtig op die tafel. Haal mooi koppies uit (as die kinders groot genoeg is). ’n Teepot met aarbeigeur-melk is natuurlik ’n móét.
Die belangrikste ding wat jy vir jou kind kan gee is jou tyd. Geniet dus die teepartytjie saam met hulle. Dit is geleenthede soos hierdie wat herinneringe skep wat vir altyd hou!


