’n Pa van sewe kinders wat in ’n eenslaapkamerhuis by sy suster woon, het meer as R1 miljoen in die Lotto se Sportstake 13 gewen.
Die 50-jarige man van Joubertina in die Oos-Kaap het net R8 vir sy wenkaartjie be-taal.
Luidens ’n verklaring van Ithuba, wat die Nasionale Lotery bestuur, sê die man hy gaan die R1 135 259,20 gebruik om sy droom te verwesenlik om vir sy kinders ’n huis te bou.
“Ek het nog altyd gewonder hoe dit sal wees om in my eie huis saam met al my kinders wakker te word.
“Dit was altyd ’n droom van my om ’n ordentlike huis te bou en saam met al my kinders onder een dak te woon. Nou kan ek uit-eindelik daardie droom verwesenlik.”
Die man is sedert Februarie sonder werk en sê die afgelope tyd het hy geldelik baie swaargekry.
Hy het gewoonlik sowat R250 ’n maand aan die Lotto en Powerball bestee, maar die geluk was nooit aan sy kant nie.
Hy het maar eers enkele weke gelede die Sportstake 13 begin speel nadat ’n buurman aan hom verduidelik het hoe dit werk.
Hy beskryf die oomblik toe hy uitvind hy is die boerpotwenner as verwarrend. Oudergewoonte het hy en ’n groep vriende wat gewoonlik hul kaartjies saam koop by die plaaslike winkel opgedaag om te hoor of hulle enigsins ryker is, maar hy is aangesê om die Ithuba-kantoor te besoek.
Hy sê hy is baie opgewonde oor die geld, maar wil nederig bly en steeds Sportstake 13 speel.




