cricket generic
’n Oud-bendelid stig ’n krieketklub op Pellsrus.

PELLSRUS – Joahn Cairncross, ‘n jong man wat eers met bendes en verkeerde vriende deurmekaar was, is besig om sy eie krieketklub op Pellsrus te stig.

“Die klub se naam sal die Pellsrus Warriors wees. Ja, dis korrek, Pellsrus gaan sy eie krieketklub kry,” sê hy opgewonde. “Ek moes ‘n besluit maak om my lewe drasties om te keer. En krieket was my roeping.

“Dit was altyd in my agterkop dat beter dinge in die lewe op my wag,” sê hy.

Joahn het in die Pellsrus-gemeenskap groot geword.

“Ek was minder bevoorreg, maar die passie van sport het altyd binne in my gebrand.

“Ek en my ouer boetie het altyd almal in ons straat by mekaar gebring sodat ons krieket kon speel. Ek het ook in ‘n huis groot geword waar die liefde vir sport groot was.

“In 2024 het ek ‘n groep spelers ontmoet en by die JayBay-krieketklub aangesluit.

“Dit was vir my ‘n groot voorreg om by die klub te kon aansluit en is vanaf dag een met ope arms verwelkom. Dit het my baie goed laat voel.

“Ek het altyd geweet ons benodig iemand in ons gemeenskap wat sport na ons toe kan bring en almal ‘n kans kan gee wat die liefde en passie het vir die sport.

“My doel is dus om jonk tot oud aan te moedig om by ons aan te sluit,” sê hy.

Joahn sê hy het reëlings getref met die plaaslike munisipaliteit sodat hulle op Pellsrus se sportgronde kan oefen.

“Ek is ook baie dankbaar vir my vriend Ronald Geswint se hulp. Hy het die regte kontakte op die regte plek gehad.

Joahn Cairncross
Joahn Cairncross is besig om sy eie krieketklub op Pellsrus te stig. Foto: Verskaf

“Ons het uiteindelik goedkeuring gekry en oefen op Dinsdae tot Donderdae vanaf 18:00 tot 19:30.

“Enige persoon wat by ons wil aansluit is welkom en kan my WhatsApp by 060 475 4152 sodat ons groepsgesprekke kan hê.

“Sodoende kan ons die jeug meer betrokke kry om die sport te geniet en ‘n sukses van hul lewe te maak.

“Daarna mik ons om by ‘n liga aan te sluit, asook om vriendskaplike wedstryde te reël sodat ons meer blootstelling kan kry,” sê Joahn. “Die doel is ook om kompetisie te wees vir al die ander spanne rondom ons soos Humansdorp, Hankey asook JayBay-krieketklub.

“Maar ek sal ook graag wil sien dat die Warriors in die OP se derde liga speel sodat die ouens die gevoel van ligakrieket kan kry.

“Ek glo die Warriors sal groot aftrek kry met areas soos Ocean View, Mandela Bay, Tokyo Sexwale en Ebumnyameni rondom Pellsrus. Dit is dus opwindende tye wat voorlê.

“Intussen oefen ek steeds by my huidige klub, JayBay, om fiks te word en ondervinding op te doen,” sê hy.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article