Die gaste by ’n spogtroue by ’n boetiekhotel net buite Thornhill, het nog een oomblik die vier laag sjokolade troukoek met swart en goue versiersel bewonder, en na die eerste paar danse… was die koek skoonveld.
“Ons het nog nie eers kans gehad om die koek te sny en foto’s te neem nie,” vertel die bruid, Than-Lee Lewis. Die koek is deur ’n plaaslike bakster gemaak en het hulle R2 500 uit die sak gejaag. Ons het ’n soort mafia-tema gehad, en alles was swart en bietjie goud.”
Almal het hoog en laag gesoek vir die koek, maar dit was nêrens te vinde nie. Ten einde laaste is die paartjie vir ’n paar dae op wittebrood.
Met hulle terugkeer tuis op Jeffreysbaai, het hulle ’n video-boodskap van een van die trougaste gekry.
“Ok, I have got your cake. If you want your cake, and if you want your cake to be safe and sound, you have to be here tomorrow morning before twelve-o’clock, otherwise we start eating it!” sê die ondeunde vriend van die bruidegom.
Than-Lee sê sy het dadelik besef dis dié kalant wat al talle troukoeke vasgelê het, en sy was reg om sy neus in die koek te vryf. “En my man, Rory (’n mede-eienaar en kaptein van ’n tjokkaboot), was toe wraggies al die tyd deel van die gekonkel!”
“Ons het toe die volgende dag na Edgar se huis gegaan, en die koek nog net so mooi daar aangetref. Ag, dit was eintlik baie sweet at the end. Hy het ’n hele filosofie agter die koek-stelery, en ons is groot vriende uitmekaar nadat ons daar die koek gesny het en vonkelwyn geniet het,” verduidelik die nuwe Mevrou Lewis.
Koekboef
Gepraat van Tant Koek se Hoenderhaan! Die koekboef wat sy gesig gewys het op die video, Edgar Doubell, is ’n alombekende onderskrywer van versekering en polisse op Jeffreysbaai.
Hy het nie geskroom om van sy eskapades te vertel nie.
“Dit was nogal ’n uitdaging om dié koek daar by die hotel te steel. Toe die mense lekker dans, het ek dit eers kombuis toe geneem. Daarna het ek dit stilletjies, en baie versigtig kar toe gedra en dit op my vrou se skoot neergesit,” vertel hy.
“Dis wraggies nie maklik om met ’n vier laag koek ongesiens uit te stap nie.”
Al 45 koeke gesteel
“Ja, dis al die 45ste troukoek wat ek gegaps het,” sê hy ingenome.
“Ek het darem nog nooit groot moeilikheid gekry nie. Ek gee altyd die koek terug. Net een keer het ek ’n koek agter op ’n bakkie gelaai, en dit het stukkend geskud.
“Maar ek het die paartjie daarvoor vergoed. En ’n slag op Brandfort het twintig ouens my amper opgedons, maar ek kon dit afweer. Ek vat ook altyd eers die koek ná die foto’s geneem is en die koek gesny is, maar ek het gehoor by Than-hulle se troue was daar mense wat die koek sou smash. Toe red ek eintlik die mooi koek.”
“Ek wil darem net sê dis alles met goeie intensies!” Hy meen hy het ’n goeie rede vir sy koekstelery.
Die kersie op die koek
Dis reeds 15 jaar dat hy by troues waarheen hy genooi word, die troukoek gaps.
“Ek en my vrou en ’n paar vriende het gesels oor die klomp geld wat mense op troues uitgee en dan weet hulle nie eens wat die rede is dat daar byvoorbeeld ’n troukoek, ’n strooijonker, ramparty, ens. is nie. Ek het gaan navorsing doen en besluit my vriende wat trou, móét weet wat dit alles beteken.”
“Die troukoek, byvoorbeeld, is ’n simbool van ’n nuwe lewe saam, en die eerste sny is die eerste slice of sweetness in life. Dit dui ook op die soetheid van die liefde.”
As die bruidspaar hulle videoboodskap ontvang het en opdaag om die koek te gaan haal, vertel Doubell hulle van al die simboliek, en gee dan sommer ’n paar huwe-likswenke.
“My beste raad is: die vrou is altyd reg!” Hy bied ook aan dat die paartjie daar kan aanklop vir verdere hulp en raad. “In die oë van God is die huwelik belangrik, en dit kos werk en baie gesprekke!”
Hoeveel nóg!
“Wel, ek het nou ’n tradisie begin en moet dit volhou. My vrou, met wie ek al 15 jaar getroud is, is nie so ingenome daarmee nie en stres baie, en my drie dogters lag net en vra of ek wéér die koek gaan steel.
“Maar ek sal dit tot op my drie dogters se troues ook doen!”





