Oom John Nelson agter die mikrofoon by die onlangse kleuresportdag van die Hoërskool Nico Malan op Humansdorp.

Foto: Veronica Fourie

John Nelson is nie net sommer ’n gewone senior bewaarder by die Korrektiewe Dienste nie. Hy het ’n goue stem en ’n skitterende persoonlikheid wat almal om hom met sy skerp humorsin opbeur.

Van jongs af is hy reeds gevra om te sing en hy vermaak gereeld die leerlinge van die Hoërskool Nico Malan op Humansdorp deur die voortou te neem met geestelike liedere.

Hy staan ook nie terug as dit by sportdae kom nie.

Met die afgelope kleuresportdag het hy nie teruggeghou nie, en die gees onder die kinders gebou met sy kleurvolle kommentaar.

Oom John, soos hy geliefd by die kinders bekendstaan, doen ook al jare lank die aankondigings by dié sportdag en die sewestoernooie.

Sy knap woordgebruik van wat hy voor hom sien afspeel, het hom al agter die mikrofoon van Supersport laat beland. Hy het immers al self vir die Oostelike Provinsie uitgedraf. Sy stem was ook agt jaar lank as uitsaaier op die plaaslike radiostasie, Kouga FM, te hoor.

Die skool se adjunkhoof, Gerrit Pienaar, sê, “John is goud werd vir die skool. Die kinders, en ouers is baie lief vir hom en hy is goeie rolmodel vir die leerlinge.”

Hy word ook ingespan by spesiale geleenthede, soos om die matrieks se eksamennommers op ’n spesiale manier te gee in ’n kostuum van ’n sirkusmeester.

Hy besoek ook ’n paar ander skole om te help met dissipline en karakterbou. Dis veral kinders met gedragsprobleme, dwelmafhanklikes en bendelede wat hom na aan die hart lê.

“Ek wil graag sien dat elke kind se pa die hoof van die huis moet wees en daar is vir sy kinders. Ek doen my bes om die pa’s terug te kry by hulle gesinne. Daar is te veel vaderlose huise,” sê John passievol.

Hy sien dit as deel van sy werk as korrektiewe beampte wat omsien na mense op parool, om verhoudings heel te maak.

John is ’n diep gelowige man en het vyf gospel CD’s uitgereik. Dié 49-jarige pa van ses, waaronder ’n tweeling, het ’n hart vir kinders. “Ek sien dit as ’n voorreg om met hulle te kan werk en om te help. Dis so bevredigend om te sien ek maak ’n verskil!”

Hy het ’n kursus gedoen in “The world needs a father” en is deel van die “Celebrate recovery” projek.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article