’n Onverwagse, maar prettige gebeurtenis het Vrydag in die Gamtoosvallei afgespeel.
Wat ’n standaard brandplan ontruimingsoefening by die Laerskool Gamtoosvallei moes wees, het uitgedraai in die (veilige) ontvoering van die skoolhoof, Christelle McCabe en graad 7 klasonderwyser, Junior Coetzer.
Die graad 7-klas het vooraf beplan om tydens hierdie oefening ’n paar klappers en rookbomme uit te ruk en die dag op sy kop te draai, alles ten bate van hulle graad 7 fonds.
Twee graad 7 leerders, aangetrek in kamoefleerdrag, het ingekom en die twee onderwysers geneem na die voertuig wat buite wag.
Daarna is hulle na ’n geheime bestemming geneem, terwyl die klas ’n losprysnota aan die vallei gestuur het, vir hul veilige terugkeer.
Die graad 7-klas het ook gaan rondtes doen in die dorp, aan almal die nuus vertel en het uiteindelik die losprysbedrag en méér ingesamel.
Dit was met groot opgewondenheid dat die onderwysers weer teen eerste pouse veilig afgelaai is by die skool.
Die graad 7-klas het ook beheer geneem van die klok en het besluit pouse is Vrydag sommer ’n hele uur lank! Hulle het hulle roete afgesluit by Padlangs met ’n heerlike koeldrank.
Die klas bedank die Gamtoosvallei se mense vir hulle gewillige donasies, wat hulle gaan gebruik vir die graad 7 afskeid wat ná die eksamen plaasvind.





