HIER in Jeffreysbaai word tientalle benadeelde en weerlose kinders ’n kans in die lewe deur sport gegun – ongeag hul sportondervinding.
Aotearoa, ’n nie-winsgewende organisasie wat in 2017 die lig gesien het, bied die afgelope jaar bystand aan kinders tussen ses en veertien jaar.
Die doelwit: om kinders weg te hou van bendegeweld, dwelms en misdaad.
Deur hulle van die strate af te hou, kan die aantal vroeë skoolverlaters verminder.
“Ons wil graag dié kinders van die straat af hou en hul energie in iets kanaliseer wat die moeite en tyd werd is, sodat hulle uit die moeilikheid kan bly,” sê Aotearoa-voorsitter Ross Matowa wat gou agtergekom het dat daar ’n groot behoefte om bystand is op geestelike, kulturele en persoonlike ontwikkelingsvlak.
“Ons gebruik sport – sokker, rugby en krieket – om sosiale samehorigheid te bevorder en om kinders te bemagtig.
“Sport leer hulle basiese vaar-dighede en verantwoordelikheid – ’n belangrike eienskap.”
Die organisasie bied tans gereelde oefensessies aan 30 kinders in die gebied.
Hulle beoog om die aantal in die nabye toekoms te verdubbel, en self meer.
Maar hulle kan dit nie op hul eie doen nie.
Matowa sê: “Om ’n sukses van die organisasie te maak, het ons die hulp van die gemeenskap nodig, hetsy deur donasies of ondersteuning.”
Vir meer inligting, skakel Aotearoa voorsitter Ross Matowa by 083 563 0249.

