ONS Tuiste, ’n tehuis vir bejaardes in Humansdorp, hou vanaf 08:00 op Vrydag, 31 Mei ’n stoepverkoping by hul perseel in Heughstraat.

Tafels gaan kreun onder ontbyt, pannekoek, worsbroodjies, poeding, groente, vrugte, jaffels, kerrie-en-rys, braaivleis, vars vleis, kerrie-en-rys, gebottelde produkte en gebak.

Daar is ook maalvleis, wors, vleis en gevriesde maaltyde: bobotie, la-sagne, hoenderpastei, macaroni-en-kaas en frikadelle.

Ons Tuiste, wat vanjaar hul 50ste bestaansjaar vier, maak voorsiening vir die versorging van 108 bejaardes.

Meeste van die verswakte bejaardes kan niks, of baie min, vir hulself doen, en het 24-uur versoring nodig.

“Ons strewe is om die beste moontlike aandag en versorging aan ons bejaardes te gee,” sê Martie Zeelie.

“Meer as 60% van hulle kry slegs ’n ouderdomspensioen en die tehuis is in ’n groot mate afhanklik van die staat se maandelikse subsidie om uitgawes te dek.

“Hoewel die tehuis in die verlede vir 80 gesubsideerde bejaardes gesertifiseer was, het dit die afgelope paar jaar verminder na slegs 50 verswakte bejaardes.

“Behalwe vir die lopende uitga-wes is daar nog die instandhouding van geboue en toerusting wat aandag nodig het.”

Vir meer inligting, skakel Izel van Eeden by 042 295 2548.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article