ONS Suid-Afrikaners is ’n avontuurlustige spul wat eerder die grondvryhoogte en buitelug-houding van ’n sportnuts verkies as die ruimte van ’n praktiese gesinsedan of luik-rug.
Die nare waarheid is dat die meeste van ons ons sente moet tel, en die meeste gesinsvoertuie ’n aardige klompie geld kos. Dis juis hierom dat Toyota besluit het om ’n bekostigbare sportnuts aan die plaaslike mark bekend te stel.
Hoewel ons die Rush in ’n sewesitplek-ge-daante verwag het (soos in oorsese markte), het Toyota SA se marknavorsing duidelik aangedui dat die middelklas-gesin eerder sal doen sonder die beknopte derde ry as hulle ’n lekker ruim bagasiebak kan kry.
Dus sal die Rush plaaslik as ’n vyfsitplek-sportnuts beskikbaar wees, met ’n lieflike hoe-veelheid ruimte vir kamp- of sporttoe-rus-ting.
Kort ná ons aankoms in Port Elizabeth lig my kollega die luikdeur oop om ’n yslike bagasieruim (van 609 liter!) ten toon te stel.
My kollega se bestuursbeurt is eerste en ek gebruik die geleentheid om die kajuit beter te bekyk vanuit die voorste passasiersitplek. Ek prop sommer dadelik my iPhone in by die USB-sok, en CarPlay maak terstond sy verskyning op die raakskerm. Sou jy jou slimfoon dalk nie by jou hê nie, kan jy van die standaard-satnavstelsel op die raakskerm gebruik maak.
- .
Die kajuit self (tipies van Indonesies-geboude motors) is ’n kombinasie van duursame maar ook meer kostebesparende oppervlakke en afwerking. Die bokant van die swart instrumentpaneel voel asof dit in ’n Etios hoort, terwyl die netjiese raakskerm en sy blinkswart agtergrond lyk asof dit tuis sal wees in ’n veel duurder motor. Die tweekleurige kleurskema verhelder die donker binneruim, en die sitplekmateriaal voel luuks onder die vingerpunte.
Die Rush is toegerus met dieselfde dienlike 1.5-liter-enjin as die Toyota Avanza (en die jongste Daihatsu Terios, wat tans nie in Suid-Afrika te kry is nie) waarop hy gegrond is. Die kraguitset van 77 kW gaan nie eindelose vermaak verskaf nie, maar die enjin het ’n reputasie dat hy bykans koeëlbestand is, en ook redelik lig op die sous, met ongeveer 8,0 liter se verbruik.
Die vyfgang-handratkas is nie heeltemal seepglad nie, maar dit sal gemakliker raak soos jy die maandelikse kilo’s aflê. ’n Sesde rat sou gewis welkom gewees het – teen 120 km/h toer die enjin teen 5 000 r/min en die kajuit is nie goed geïnsuleer teen die klank nie.
Die ritgehalte op gladde teer is goed, maar dit gaan redelik skud-skud op ’n swak teerpad. As jy lief is vir Karoo-grondpaaie ry soos ek, gaan jy sommer baie van die Rush hou. Hier voel hy sommer in sy element! Die Rush spog met ’n 22 cm-grondvryhoogte en skrik nie vir ’n bietjie water nie: Hy het ’n waad- diepte van 60 cm, en boonop is die Rush se 17-duim-allooiwielbande lekker fris.
Terwyl vierwielaandrywing gaaf sou wees vir duine-ry, is die agterwielaandrywing heel voldoende vir die meeste avonture waarop die intreevlak-sportnutskoper sou wou gaan.
Ma’s en pa’s gaan beïndruk wees met al die veiligheidstoerusting soos ABS met remkragverspreiding, stabiliteitsbeheer en ses lugsakke wat tot heel agter strek.
Op pad terug hotel toe het vyf grootmense saam in die Rush gery en dit was nie onuithoudbaar nie, maar met drie kinders agterin sal almal gemaklik wees (met ’n driepunt-gordel vir elk). Twee grootmense op die agterbank gaan ook gerieflik sit, met heelwat beenspasie en beweegruimte.
Gaan Suid-Afrikaners mal wees oor die Rush? Ek dink beslis so. Terwyl die RAV4 en Toyota Fortuner buite bereik is vir die meeste buitelugliefhebbers, is die Rush meer as net ’n mooi troosprys. As ons kyk na die mededingers soos die Honda BR-V, wen die Rush loshande met sy lekker hoë grondvryhoogte, asook lang lys van veiligheids- en geriefstoerusting. Ek sou sê die Renault Duster is die Rush se kwaaiste mededinger in hierdie segment.




