Trumie en Pirouw Viljoen. Foto: Joané Azenha

Ou Jeffreysbaaiers sal hulle onthou en ken as die vriendelike glimlag (Trumie) en indrukwekkende snor (Pirouw) waarmee hulle vir jare lank klante verwelkom het by die Wimpy-, en later Mug & Bean-restaurante.

Die Viljoen-gesin van Jeffreysbaai het oor die jare sinoniem geword met die gasvryheidsbedryf. Hulle bedien al vir 36 jaar heerlike hamburgers, liplekker melkskommels en plaasvars ontbyte aan hul tuisdorp.

Hulle is van die oudste besigheidseienaars op die dorp, en gesels nostalgies oor die tye toe ’n mens nog die besighede op die dorp op een hand kon tel.

In 1984 begin hulle hul eerste Wimpy-restaurant onder in die dorp waar Tasty Tables vandag geleë is in Diazstraat, en verskuif deur die jare nog twee keer van perseel voor hulle uiteindelik hul tuiste vind op hul huidige perseel by 9 Oosterlandstraat, wat hulle die afgelope drie jaar as ’n Mug & Bean-winkel bedryf het.

Op 30 Mei het dié gesoute besigheidsman en -vrou ná 36 jaar besluit om die Famous Brands- groep te verlaat, waarvan Wimpy en Mug & Bean deel is, om al die kennis en ondervinding wat hulle in ’n leeftyd van restaurantwese opgedoen het, in hulle eie handelsmerk in te ploeg.

“Ons het hard gewerk, baie geleer en wonderlike tye gehad, maar dit is nou vir ons die regte tyd om uit die groep te tree.”

Op die ouderdom waar die meeste mense heerlik aftree en rus, is daar geen keer aan hierdie twee vuurvreters nie. Hulle sien kans om ’n hele nuwe avontuur aan te pak onder die naam 9 Oosterland Restaurant, wat op 7 Junie sal open.

“Ons sal dieselfde hoë standaarde, vriendelike diens en heerlike kos bied waarop ons nog al die jare oor kon roem. Dit is tyd net dat ons dit onder ons eie naam begin doen sodat ons die gemeenskap wat ons só goed ken, beter kan dien.

Ons sal dieselfde hoë standaarde, vriendelike diens en heerlike kos bied waarop ons nog al die jare oor kon roem. Dit is tyd net dat ons dit onder ons eie naam begin doen sodat ons die gemeenskap wat ons só goed ken, beter kan dien.

“Ons weet wat ons klante wil hê en ons sal dit beter kan bied as ons nie aan ’n bekende handelsmerk met nasionale voorskrifte gebind is nie.”

Trumie noem dat daar ou gunstelinge soos heerlike ontbyte, melkskommels en hamburgers op die spyskaart sal wees, maar ook ’n nuwe verrassing in die vorm van ’n daaglikse “reg om te skep”-ete.

Dit sal elke dag iets anders wees, en ideaal vir diegene wat haastig is of beperkte tyd vir middagete het, om vinnig te kan kom eet of selfs wegneem.

Heerlike koffie word natuurlik, soos nog altyd, hoog op prys gestel en Trumie verseker ons dat hulle kliënte lekker sterk boeretroos by hulle sal kry, om ’n dag mee te begin of af te sluit.

Die Viljoens is seker dat 9 Oosterland Restaurant die plek gaan wees waar vriende, familie, oud en jonk, heerlik saam sal kuier en eet.

Jeffreysbaai kan voorwaar uitsien daarna om hierdie nuwe era saam met die Viljoen-gesin in te gaan en voort te bou op hul jarelange sukses.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article