’n TWEEDE Kouga dorp hoop om die gesogte kykNET Kwêla Dorp van die Jaar titel te wen vir 2021.
Maar eers moet St Francis, die hart van Kouga se tjokka-industrie, sy plek as finalis in die Oos-Kaap verseker.
Dit kan egter nie gedoen word sonder die hulp van alle inwoners en besoekers nie.
“Hierdie is ’n pragtige deel van die wêreld, met baie om te sien en doen vir besoekers,” het St Francis Toerisme kantoorbestuurder, Hantie van der Westhuizen, gesê.
“Die Kwêla-kompetisie is ’n fantastiese ge-leentheid om die gebied te bemark en die plaaslike toerismebedryf te laat groei – veral na die verwoestende uitwerking wat COVID–19 op die plaaslike toerismebedryf gehad het. ”
Volgens Van der Westhuizen, sou St Francis wen, sal dit nie net ’n oorwinning vir die dorp wees nie, maar ’n hupstoot vir die hele Kouga.
“Ons wil ’n beroep op die hele Kouga doen om hul gewig agter St Francis te gooi,” het Horatio Hendricks, uitvoerende burgemeester van Kouga, gesê.
“Dit was deur ’n gesamentlike poging dat ons die titel vir Jeffreysbaai in 2018 kon verower. Verder is Patensie in 2019 as die wenner van die Oos-Kaapse ronde van die jaarlikse kompetisie aangewys.
“Laat ons hande vat en dieselfde vir St Francis doen.”
Die nasionale wenner wen gratis bemarking via kykNET, insluitend ’n advertensie van 45 sekondes.
KIA sal ook weer ’n “makietie” borg in die 2021-stad van die jaar.
Om St Francis as Dorp van die Jaar vir 2021 van kykNET se Kwêla te benoem, SMS St Francis na 33157. Elke SMS kos R1,50
Nominasies sluit om 12:00 op Vrydag, 2 April.
- Besoek www.kyknet.tv vir meer inligting.



