Foto ter illustrasie.

Foto: Gallo Images/Getty Images

’n Gesellige kuier gaan mos gewoonlik gepaard met ’n ietsie te drinke. ’n Koffie-afspraak is dikwels die eerste skuif om ’n vriendskap of verhouding aan die gang te kry. Net uit die manier wat iemand hulle koffie geniet, spreek boekdele van hulle menswees en geite. Arme kelners moet bontstaan om elkeen se uitsonderlike manier te onthou.

Ek het al gesien dat ’n vriendin koffie bestel waarvan die helfte warm melk moet wees en die res kookwater. Nog iemand wil weer swart koffie hê met ’n bietjie koue water by, of selfs ’n ysblokkie. Met die talle koffiewinkels wat oral opspring, is die keuse van soorte koffies eindeloos. Geskuimde melk, sekere bone en selfs die water is vir die fynproewer ’n belangrike aspek. Op die winkelrak is die keuses van koffie genoeg om jou te laat stoom.

Selfs om net water te drink is ’n gedoente. Jy kan gebottelde water bestel… met of sonder borrels. Of mense bestel ’n glas water, dan moet daar net ys by wees. Nog een wil ys en suurlemoenskyfies inhê. En dan is daar die gesondheidsbewustes wat warm water met suurlemoen in bestel (Die water-kieskeuriges gee glo die kleinste fooitjies, volgens ’n vertoning wat ek al gesien het genaamd Tip).

Maar, regtig, as jy nou uiteenlopende smake wil ervaar, is dit by ’n wynproe. Anneraand was ek deel van so ’n groep. Hulle kan sweer van die wyn het allerlei sitrusgeure, speserysmake en ondertone van jasmynblomme. Gits, my smaakpalet weet net of dit lekker is of nie, en of dit my hoofpyn gaan gee al dan nie.

Ek het my bes gedoen om die ryp pynappel, koejawel, bessies, papaja en appel te proe. Die res van die wyn-vrugteslaai verwys na appelkose, perskes, spanspek en geroosterde neute. Die wyn met beweerde oestersmake het groot aftrek gekry.

Die uitgenooides moes die onderskeie wyne beoordeel volgens kleur, die neus en smaak. Die laagste en hoogste punte is vir dieselfde wyn gegee, wat eintlik beteken dat smaak die deurslag gee. Nie almal se smaak is dieselfde nie.

As mens nou by iemand inval vir ’n koppie tee, is dit ook ’n affêre. Party verkies warm melk, en ander koue melk. Rooibostee is nie vir almal smaaklik nie. Soms word die tee eers geskink en dan die melk; ander hou weer andersom daarvan. Die talle soorte speserytee, groentee en wat nie als nie, kan van dié eenvoudige drankie ’n koninklike affêre maak.

Maar net so is daar in die wêreld mense wat nie jou koppie tee is nie. Dit maak nie saak wat jy doen nie, hulle sal nie van jou hou nie. Hulle sien nie jou waarde raak nie. Jy moet eerder fokus op die wat liefhet en aanvaar soos jy is. Moenie jou tyd mors om hulle te oortuig nie, en dit sal jou emosionele gesondheid belemmer. Jy is nie bedoel vir hulle nie, en hulle nie vir jou nie. Hulle is nie jou koppie tee nie, en jy ook nie hulle s’n nie, en dis heeltemal reg so!

Soek eerder dié op wat jou erkenning gee en jou talente waardeer. Wees net wie jy is.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article