Lienke Vosloo staan met 'n sertifikaat en trofee.
Lienke Vosloo hardloop die wêreld aan die brand. Credit: Verskaf

Atlete van die Hoërskool Nico Malan op Humansdorp het tot dusver vanjaar spogprestasies gelewer en gewys die talent is volop op dié Oos-Kaapse dorp.

Van hulle het ook op nasionale vlak hul staal gewys en bevestig daar gaan in die toekoms nog sommer baie van hulle gehoor word.

Ná byeenkomste by die OP-skolekampioenskap op Queenstown en ook by die OP-atletiekvereniging se byeenkoms op die Nelson Mandela-universiteit se baan is 11 atlete is gekies om aan die ASA en SA skole-byeenkomste in die Kaap en Bloemfontein deel te neem.

De-Ane Erasmus en Anzelle Botes het aan die 400m wedloop deelgeneem, Nina Strydom aan die 200m, Liam Vosloo aan die 110m hekkies, en Alet Bezuidenhout aan die driesprong. En in die hoogspring-finaal by die SA Skole het sy die tiende plek behaal.

Dan was Lienke Vosloo in die finaal van die 300m-hekkies by SA Skole in aksie, waar Kieran van Lill in die halfeindronde van die 400m en 200m in die wegspringblokke gesak het.

In die 800m-finaal het Joshua Napoleon vyfde geëindig, terwyl Cindy Strydom die derde plek in die hoogspring behaal het.

Patrick Kettledas het by die ASA vierde geëindig in die 400m finaal en derde by SA Skole. Prince Latile was in die 400m finaal by SA Skole in aksie waar hy en Kettledas ook die bronsmedalje vir die 4x100m aflos gekry het.

Vroeër die jaar het ‘n droom vir Nico Malan waar geword toe hy die eerste inter-hoër vir kusskole aangebied het waaraan vier besoekende skole – Framesby, Pearson, Brandwag, Daniel Pienaar -deelgeneem het.

“Dit was ‘n spogbyeenkoms met atletiek van ‘n hoë gehalte,” sê Jannie Venter, afrigter en atletiekorganiseerder by Nico Malan.

Hiér het Framesby met die louere weggestap met Nico Malan tweede.

Brandwag was derde, Pearson vierde en Daniel Pienaar vyfde.

Lienke Vosloo van Nico Malan is as Junior Victrix Ludorum aangewys met haar puik vertonings in die 90m- en 300m- hekkieswedlope, terwyl Patrick Kettledas – ook van Nico Malan – as Junior Victor Ludorum aangewys is vir puik vertonings in die 200m- en 400m-wedlope.

Nico Malan se atlete het ook ná die CMC-byeenkom op Kareedouw huis toe gekom met 52 goue, 25 silwer- en 22 bronsmedaljes. En by die Sarah Baartman-byeenkoms het die skool weer ‘n allemintige 42 goue, 16 silwer- en 7 bronsmedaljes gewen.

Hou gerus Patrick Kettledas dop vorentoe.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article