HUMANSDORP skud sy vere reg vir ’n bielie van ’n fees volgende Saterdag.

Kouga-inwoners en besoekers kan egte boeregasvryheid by die NG Kerk Oos-gemeente Humansdorp verwag.

Die geur van kaneel, braaivleisvure, vetkoekbakkers, kleurvolle poeding, liplekker tuisgemaakte kolwynties, boeretroos en nog vele meer wag op basaargangers.

n Egte plaasontbyt sal te koop wees. Die laatkommers kan aan roosterkoek en sosaties, jaffles, worsbroodjies en kerrie en rys smul.

Daar is ook spitbraai, skaapkoppe en stampmielies.

Alles, van vleis, gebak tot groente en vrugte sal te koop wees. Pragtige plantjies vir die tuin, handwerk, asook ingelegde groente, vrugte en konfyte gaan opgeraap word.

Speletjies is vir die jongklomp gereël.

Die basaar word op 3 November vanaf 08:00 by Zuurbron op die R330 net buite Humansdorp gehou.

Skakel Erina by 083 419 7133.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article