Foto ter illustrasie.

Foto: Argief

Na byna drie jaar van COVID-19 en restourasie van die saal, vind daar nou weer konserte in die Veremark-sentrum in Gqeberha plaas, en kan die monumentale orrel ook weer gehoor word!

Die Veremark-orrelvereniging bied ’n groot liefdadigheids-Kerskonsert aan in die Veremarksentrum op Woensdag, 7 Desember om 13:00 ten bate van Care Haven – ’n tehuis vir psigiatriese pasiënte in Gqeberha.

Drie orreliste, Albert Troskie, Liesl Murphy en Justin Stone, speel feestelike Kersmusiek op die groot konsertorrel, onder meer Vierne se Carillon de Westminster.

Twee soprane, Madelie Olivier en Lidokuhle Gushu, asook die bariton Njabulo Mthimkuhlu sing werke van onder andere Handel en Bach, terwyl André Visser sy vaardigheid op drie instrumente – die hobo, saksofoon en cor anglais, ten toon stel.

Pragtige musiek word gelewer deur ’n blokfluitensemble van vier spelers, onder leiding van Erna Cloete, met onder meer Orlan Charles se A Christmas Medley.

Die koor, Cantando@Algoa onder leiding van Gustel Agenbach sing vyf werke, waaronder Young se A Joyful Alleluia en Owens se Christmas isn’t Christmas.

Op die vleuelklavier en reuse-orrel speel die klavier- en orrel-duo, Erika Bothma en Albert Troskie briljante verwerkings van die kersliedere, Nos Galan en Gesu Bambino. Hulle eindig met die grootse Maestoso uit Saint-Saëns se Orrelsimfonie.

Daar sal ook samesang wees en ’n uitvoering van die Morawiese koperblaasensemble onder leiding van Tyrone Hitzeroth.

  • Toegang is R50. Vir pensioenarisse is dit slegs R40 en vir kinders R10. Voorafbespreking is nie nodig nie en kaartjies sal by die deur beskikbaar wees. Die konsert sal ongeveer 70 minute duur.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article