’n Verhaal van ’n goue wildebees en oranje ‘Pampoentjie’

Die goue wildebeeste wei rustig in die veld by Pabala-natuurreservaat.

Foto: DH Photography

Iewers in die skone Gamtoosvallei, wei daar ’n goue blouwildebees of meer, ’n feeverhaal is dit gewis nie, maar die volle waarheid!

Die Pabala-natuurreservaat roem daarop dat daar verskillende kleure bokke van ’n spesifieke spesie in die reservaat aangehou word, iets wat nie baie in ander reservate gesien sal word nie.

Dié reservaat is maklik bereikbaar reg langs die R330 en net sowat 7km voor Hankey vanuit Gqeberha se rigting.

Ook net naby genoeg aan die Spar daar indien jy dalk jou vleisie tuis vergeet het of ’n dorstigheid krap-krap aan die keel.

Tydens ’n onlangse toetsrit van die nuwe Suzuki S-Presso het hierdie skrywer gevind dat die motortjie die paar sinkgate op die pad ewe maklik kon ontduik as wat dit die reservaat se grondpaaie hanteer het.

Die S-Presso is weliswaar nie ’n luukse motor nie, maar dis uiters bekostigbaar en bied jou die nodige bykomstighede.

Die beenspasie voel ook verrassend goed, dalk omdat dit voel of jy “hoog” sit.

Maar terug na die Pabala-natuurreservaat.

Wernich en Lurina Cronjé het die plaas in 2016 gekoop as ’n plek waarheen hulle as gesin vir die naweek kon wegbreek.

Familie en vriende het hulle aangemoedig om dit uit te brei as gevolg van die pragtige uitsig wat hulle daar het en spoedig was die eerste paar tente opgerig.

“Dit was eers bekend as die Pabala-wildsplaas maar die klassifikasie het so drie jaar gelede verander na Pabala-natuurreservaat nadat ook die nodige plantegroei daar geklassifiseer is,” verduidelik Nadine Barnard, bestuurder van die reservaat.

Daar is ook deesdae verskillende verblyf-opsies soos die nou reeds uitgebreide tentekamp waar besoekers heerlik saans in die boma om die vuur kan kuier.

Nadine Barnard, bestuurder van die Pabala-natuurreservaat op die dek van een van die tente in die tentekamp.

In dié kamp is daar ook ’n kombuis met al die nodige braai-en kombuistoerusting en netjiese ablusiegeriewe waar ’n heerlike warm stort na ’n dag in die veld geneem kan word. Dis nou as jy nie gou in die dammetjie regby die tentekamp wil afkoel nie.

Daar is wel elektrisiteit by die kampeerplekke en in die kombuis en badkamer, maar nie in die tente nie omdat dit tot nadeel van die diere sal wees. Vars linnegoed en handdoeke is deel van die verblyf.

Moet ook glad nie verbaas wees as jy een oggend jou tentsluiter ooptrek en in die gesig van ’n kameelperd vaskyk nie, dié hou juis daarvan om luilekker in die tentkamp te loop en wei.

Maar daar is ook die “Stone Cottage”, “Farm Yard Cottage”, “Valley View Suite”, “Country Guest House” en selfs ’n spesiale “Honeymoon Suite” as jy dalk deure bo tentflappe sou verkies.

Buiten die nuuskierige kameelperde en aanskoulike goue-blouwildebeeste is daar ook gewone blouwildebeeste, swart-, koper-, en gewone springbokke, swartwitpense, wit- en gewone blesbokke, koedoes en bosbokke wat veral volop in die gebied is.

“Dit is heeltemal veilig want grootwild is daar nie. Miskien ver agter in die berge is daar nog ’n luiperd of twee en saans kan jy wel die jakkalse hoor roep,” sê Nadine.

As jy nie self wil bestuur nie kan jy ’n wildrit bespreek wat soggens om 07:00 en laatmiddag om 16:00 aangebied word. Daar is ook uitstappies in die veld saam met ’n gids en dan kan jy die allermooiste foto’s neem.

Daar is natuurlik ook die groot verskeidenheid plantegroei eie aan die gebied, voëls asook ’n byeboerdery wat ’n naweek in die reservaat meer as die moeite werd maak.

Dit is juis die ekstra aktiwiteite wat daar aangebied word wat ’n heerlike smaak in jou mond agterlaat.

Gaan haal self heuning uit (beskermde pakke word voorsien), proe dit en bottel sommer ook jou eie potjie. Daarna kan jy die soetigheid met ’n jenewer of ’n rum of twee gaan afsluk.

Dié proe-sessies sluit geure soos sitrus uit Patensie, aarbeie uit Hankey, heuningbos wat in die Baviaanskloof-natuurreservaat geoes word en Pabala se eie turksvye in.

Die “Local is Lekker Pub en Grub” is skaars ’n klipgooi ver waar ontbyt, middag- en aandete of ’n skemerkelkie geniet kan word terwyl jy die rustigheid van die wonderskone omgewing om jou indrink.

Daar is ook konferensie- en onthaal-geriewe beskikbaar.

Dagbesoekers is natuurlik ook welkom, maar as jy in een van die gerieflike oornag-fasiliteite sou inboek kry jy afslag op die aktiwiteite wat daar aangebied word.

Vir my was ’n dagbesoek aan die reservaat net te kort!

Danksy die S-Presso was die stadsverkeer met my tuiskoms laatmiddag in Gqeberha geen probleem nie.

Dié outjie hanteer gemaklik en glip in en uit parkeerplekkies dat jy soos ’n meesterbestuurder voel.

Met die droogte in die Oos-Kaap is dit ook ’n taamlike verrassing om te ontdek dat die klein bagasieruim van die motortjie genoeg spasie vir nege 10 liter kanne water het!

Vir die eerste keer het ek ook nie na my voertuig in die parkeerarea van die winkelsentrum waar ek gou ’n vinnige pasteitjie en koue bier vir aandete aangeskaf het, gesoek nie.

Ek het eenvoudig my oë oor die parkeerarea laat dwaal en daar staan hy, die skattige oranje pampoentjie wat my veilig by die huis besorg het vir ’n welverdiende nagrus na ’n heerlike bederfdag by die Pabala-natuurreservaat!

Skakel 072 587 4987 om verblyf te bespreek of stuur epos aan info@pabala.co.za of besoek die webtuiste by www.pabalaprivatenaturereserve.co.za/ vir meer inligting oor die konfe-rensiegeriewe, troulokaal en ander opwindende geleenthede wat by die reservaat aangebied word.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article