’n TOLBOS kan grootliks beskryf word as die blare en blomme van sekere plante wat, wanneer dit volgroei en droog is, vanself loskom van die wortel of stam en dan rol dit weg in die wind.
Alhoewel daar ’n definitiewe inheemse lekkerte aan die naam is, sal ’n mens definitief nie die vlugtige natuur van hierdie plantsoort met die restaurant wat hy as naamgenoot het, vereenselwig nie.
Tolbos restaurant en winkel op die lieflike plaasdorpie Patensie, het op 17 Augustus sy 33ste bestaansjaar gevier. Dit is voorwaar ’n mylpaal, veral op ’n dorpie waar daar in 1988 bitter min behalwe stofstrate en plaasimplemente te siene was.
Kouga Express het met ma- en dogterspan Hetsie en Karin Scheepers gaan gesels om meer hieroor uit te vind.
Tolbos is die breinkind van twee formidabele boervrouens, en beste vriendinne, Hetsie Scheepers en Tosca Joubert, toe hulle meer as dertig jaar gelede ’n plek buite die huis gesoek het om hulle stokperdjies te beoefen, onderskeidelik pottebakkery en naaldwerk. Hulle het ’n klein huisie agter die destydse voetbalveld geneem, so bietjie gewerk en geskaaf aan die plek en so is Tolbos gebore.
Hetsie vertel: “In daardie jare het ek elke dag naaldwerk gedoen en uitrustings gemaak en ek het spasie nodig gehad om dit te doen. Ons besluit toe om ’n diens te lewer aan die gemeenskap deur ’n klein winkel te begin waar mense vanuit die gemeenskap hul tuisgemaakte produkte kon verkoop.”
Later het hulle besluit om hul dienste uit te brei na dié van ’n baie be-skeie teetuin, waar hulle slegs tee en botterbroodjies (scones) kon ver-koop, omdat hulle net ’n mikrogolf en ’n ketel as kombuistoerusting gehad het. Die verversings is geniet by rofgetimmerde dwarslêerbankies wat deur die vriendinne se mans aanmekaargesit is.
“Later het ons modeparades gehou met my uitrustings – dan hou die vrouens van die vallei hul lywe model en vertoon die uitrustings wat ek gemaak het. So het ek my klere verkoop en ons kon die winkel uitbrei.”
Tolbos het vinnig ’n kletsplek vir die dames van die distrik geword en die twee vriendinne het besluit om hul spreekwoordelike grondgebied te vergroot.
Karin vertel hoe hulle na skool moes help in die winkel. Toe die winkel begin tuisgebakte brood ver-koop, moes elke kind na skool éérs ’n skottel deeg knie voor hulle kon gaan speel. Die brode is dan deur die nag deur Hetsie gebak en het elke oggend getrou op Tolbos se rakke verskyn.
“Destyds was ons nie baie ingenome met die werk nie, maar dit was wonderlike tye Ek verruil dit vir niks op die aarde nie”
Op 9 Januarie 1994 het hulle na die perseel verskuif waar hulle vandag staan. Deur die jare is baie veranderinge aangebring. Tosca het in 2016 besluit dat sy graag haar aandeel in die besigheid wil verkoop om af te tree, en Karin, met haar kinderdae diep in die winkel ingewortel, besluit toe om Tosca se aandeel uit te koop en saam met haar ma in die besigheid te tree.
Met haar agtergrond in modeontwerp en spyseniering was Karin die perfekte persoon om hierdie baken die toekoms in te neem. Vandag be-dien die restaurant veel meer as skons, en kliënte kan ’n heerlike spyskaart verwag, met alles van ontbyt tot middagetes en soetgoed uit hul eie voltydse bakery.
Hul bestanddele en benodigdhede word so ver moontlik van plaaslike verskaffers gekoop, want die ekonomie van die vallei is vir hulle baie belangrik. “Ons moet mekaar onder-steun, anders sal ’n klein dorpie soos hierdie nie kan oorleef nie.”
Dit verseker ook natuurlik dat alles wat jy daar eet plaasvars is.
Die Scheepers-gesin het hulle oor die jare ook beywer met die stigting van die eerste toerisme-maatskappy wat die Gamtoosvallei en die Ba- viaanskloof vir mense toeganklik gemaak het. Hulle is vandag nog baie betrokke by toerisme in die omgewing en is ook ’n toerismekantoor, waar ’n mens meer inligting oor aktiwiteite in die omgewing kan bekom.
Tannie Hetsie is self ’n kranige reisiger en kan besoekers alles vertel van staproetes, kampeerplekke en 4×4 paaie van Patensie tot bo in Afrika. Dit is opwindend om te weet dat Tolbos, met sy wortels diep in die gemeenskap, sal voortbestaan en die volgende generasie bedien.




