In die hart van Jeffreysbaai is daar ’n nuwe ontwikkeling op die horison – ’n gemeenskap-promenade wat beloof om die lewens van inwoners, toeriste, en selfs gestremdes te verryk.
Die eerste fase van dié projek, ’n 1.5km promenade – gedoop die “droommyl” – wat vanaf die Nasionale Seereddingsinstituut tot by die Jeffreysbaai-karavaanpark strek wanneer voltooi – het op Maandag, 29 Januarie afgeskop.
Dít te danke aan die toegewyde werk van die nie-winsgewende organisasie, Dorp van Drome, wat reeds in 2012 begin het deur Jeffreysbaai te help verfraai – alles sonder enige vorm van vergoeding, en Lottoland Help ’n Dorp – ’n kykNET-program en gewilde inisiatief wat dorpe help met projekte wat deur inwoners of organisasies geïnisieer word om gemeenskappe te ondersteun en te verbeter.
Lottoland – Help ’n Dorp
Deon Goosen, een van die stigterslede van Dorp van Drome en toegewyde aanhanger van Lottoland Help ’n Dorp, het dadelik `n komitee, onder leiding van Dorp van Drome voorsitter, Bryan Dhludhlu, saamgestel toe inskrywings vir die tweede seisoen einde verlede jaar geopen het. Hierdie komitee sluit in Lolita Vosloo, Johan Deysel, Waldo van Niekerk, Leilani Coetsee, Christa Venter en Nomvelo Siwela. Na gesprekke met Kouga-munisipaliteit, is die volledige aansoek binne ’n paar weke ingedien. Die opwinding het ’n hoogtepunt bereik toe Lottoland onlangs Jeffreysbaai besoek het en ’n welkome koevert oorhandig het – ’n waardevolle finansiële bydrae ten bate van die eerste fase van die projek.
Maar daar is een uitdaging: die projek moet binne vier weke voltooi wees. Daarna besoek Lottoland Help ’n Dorp die dorp om die vordering te sien. Die doel is nie net om geld te gee nie, maar ook om teenprestasie uit die gemeenskap te ontlok.
Fase Een
Die aanvangfase van die projek behels die konstruksie van die eerste 250m van die hout-promenade – vanaf die Jeffreysbaai-karavaanpark tot by Sandkasteel in Diazweg. Verder gaan ’n voetpad vanaf die braai-area by Pellsrusstrand tot by die geplaveide paadjie by die hoofstrand opgerig word, terwyl oortollige seesand in die gebied ook verwyder sal word. ’n Nuwe parkeerarea naby die Jeffreysbaai-karavaanpark sal gevestig word, sonder enige inmenging in die inheemse plantegroei.
Fase Twee en Drie
Wanneer die nodige fondse beskikbaar is, sal die tweede en derde fase aangepak word. Hierdie fases behels die oprigting van ’n hout-promenade vanaf Sandkasteel tot by Kitchen Windows. Die derde fase sluit verdere uitbreidings in, soos ’n uitkykpunt, veiligheidskameras, en beligting.
Toeganklikheid vir gestremdes
Een van die uitsonderlike kenmerke van hierdie promenade is die toewyding aan toeganklikheid vir gestremdes – met ’n rolstoelvriendelike ingang by Sandkasteel in Diazweg. Ander voordele sluit in veilige toegang tot die strand, toeganklikheid vir stappers en drawwers, ’n veiliger omgewing vir hengelaars en die beskerming van die duine.
“Dit is met groot opgewondenheid dat Kouga-munisipaliteit die bou van ’n promenade by die hoofstrand in Jeffreysbaai ondersteun,” sê Kouga Uitvoerende Burgemeester, Hattingh Bornman. “Die bou van ’n promenade is al lankal die droom van menige inwoners, en die munisipaliteit sal hand-aan-hand werk met Dorp van Drome om die projek ’n sukses te maak.”
Dhludhlu nooi die gemeenskap uit om deel van die Dorp van Drome span te word.
Meer inligting
Dorp van Drome wil graag die gemeenskap by die projek betrek en sal enige hulp waardeer. Vir meer inligting of om deel te word van die projek, kontak Dhludhlu by 083 747 0031 of stuur ’n epos na leilanicoetsee19@gmail.com.
-UITGEREIK DEUR KOUGA MUNISIPALITEIT




