SEDERT dr. Heilie Uys (66) in Maart 2004 ’n nuwe nier ontvang het, het sy as gholfspeler en veldatleet al aan sewe Wêreld-Oorplantingspele deelgeneem.
Met die afgelope nasionale spele in Port Elizabeth was sy fotograaf, want ’n skouerbesering het haar uit deelname gehou.
Uys is ondervoorsitter en sekretaresse van die Oos-Kaapse Ver-eniging van Oorplantingsport en haar man Willie is die tesourier.
Haar verhaal is uniek, want vir die langste periode van haar tyd as verpleegspesialis was sy in dialise en oorplantingseenhede.
“En jy weet, dan sê jy altyd vir die pasiënt hy of sy moet so voel en . . . en vir my studente het ek altyd gesê pasiënte voel só en toe kry ek nierversaking en ’n oorplanting.
“Nou kan ek eerstehands vir hulle sê dít is nou hoe die mense voel en ek kan my persoonlike ervaring in die akademie bring – wat ’n ander perspektief daarnatoe bring.”
Voor haar aftrede en verhuising van Roodepoort na Kaap St. Francis, was Uys voltyds dosent in verpleegkunde aan die destydse Randse Afrikaanse Universiteit in Johannesburg.
“Ek tree nooit af nie, ek verskuif net fokus,”sê dié dinamiese vrou.
“Benewens my betrokkenheid by oorplantingsport is ek nog deeltyds betrokke by Nelson Mandela-Universiteit asook die Universiteit van die Witwatersrand vir eksaminering en moderering van nefrologie studente (dialise en oorplanting).”
Die ‘siek modus’
Sy het ’n interessante beskouing oor die “siek modus” waarin mense kan verval.
“As ’n mens vir baie jare siek was, gaan jy in wat ons in Engels noem, ’n sick mode.
“Ná ’n oorplanting bly baie mense in daardie sick mode . . . hulle sit en doen niks met die nuwe gawe wat hulle gekry het.
“Ek sê altyd dit is soos ’n klomp mense wat op ’n bus klim. Jy klim op die oorplantingsbus. As jy by die stopstraat kom, dan kan jy kies, of jy klim af van die bus of jy bly op die bus. As jy op die bus bly, dan bly jy in jou sick mode.
“As jy afklim van die bus, dan gaan die wêreld vir jou oop, en dan begin jy weer kyk na jou normaliteit. Weet jy, jy kan nie glo nie – ná my nieroorplanting – binne ses maande het my vel teruggekeer na normaal, my energievlak . . . ek was ’n nuwe mens.
“Ek dink ’n mens is dit aan die Here verskuldig om iets te doen met die nuwe gawe wat Hy vir jou gegee het. Ek sê nie jy moet altyd net aan sport deelneem nie, maar jy moet betrokke raak.
“Jy kan byvoorbeeld ook by orgaanoorplantingsbewegings aansluit sodat jy vir ander mense kan vertel wat orgaanoorplantings doen.
“Jy word dan deel van die gemeenskap, jy bly nie in die siek gemeenskap nie.”
Die Perd
Maar hoe het sy gevoel toe sy as mediese spesialis nierversaking gekry het?
“My verdedigingsmeganisme is intellektualisering . . . dit was amper asof ek ontken het dat ek siek is. Denial. Maar omdat ek so baie geweet het daarvan, was dit vir my baie makliker om te kan hanteer.
“Ek was vir meer as drie jaar op tuisdialise, ek was elke aand gekoppel aan ’n masjien. My man en ek het die wonderlikste verhouding met hierdie masjien gehad.
“Sy naam was Die Perd. En as ek nou in die nag so half omdraai en ek lê op een van die pype en die alarm gaan af, dan stamp hy aan my en hy sê die perd runnik, wat is verkeerd met die perd.
“Ons het die masjien nie as ’n objek, nie as masjien nie, in die huis gebring, Jy moet vir die ding ’n naam gee. Hy word n persoonlikheid en dan aanvaar jy hom.
“Ons het Die Perd in ons kar gelaai, op die vliegtuig en ons het met hom saamgegaan tot ek nou my oorplanting gekry het en ek was toe verlos van Die Perd.”
Die heilige les
Uys vertel van die heilige les wat sy geleer het. “Ek was drie jaar, drie maande en drie dae op dialise . . . en nadat ek my oorplanting gekry het, en ek het gewonder wat beteken al die dries.
“ ’n Vriendin het gesê die antwoord is eenvoudig, ek moet net Jeremia 33:3 lees. Daarin staan toe: Jy het na My geroep en Ek het jou gehoor en Ek sal vir jou dinge wys wat jy nooit geweet het nie . . .
“En weet jy, hier was ek as ’n akademikus wat alles weet, maar ek het ooit geweet werklik hoe voel so ’n pasiënt nie . . . en Hy het dit vir my geleer en nou kan ek daardie boodskap uitdra aan andere.”
- Vir nog inligting oor die SA Ver-eniging van Oorplantingsport (Satsa), besoek transplant.org.za of op Facebook onder SA Transplant Sports Association. Of skakel Hermann Steyn, sekretaris van Satsa by 021 851 9462 of e-pos na admin@transplantsports.org.za.





