Vir iemand wat nog nooit ’n outomatiese kar bestuur het nie, was ek so opgewonde soos ’n jongeling op ’n Kersfeesoggend toe ek hoor dat ek uiteindelik ’n kans gegun sou word om wel so ’n voertuig eindelik op die proef te kan stel.
Dus, voor jy kon sê “woerts” was ek agter die stuur van die kleinerige Suzuki Fronx 1.5L SUV.
Alhoewel dit my ’n wyle geneem het om aan die outomatiese ratkas gewoond te kon raak, was ek later so gemaklik daarmee dat ek dit nou self oorweeg om na so ’n motor oor te skakel!
Ek het darem eers so ’n bietjie oor die motor opgelees en weet nou ook dat die Fronx se vervaardigers hul inspirasie uit die Suzuki Baleno gekry en daarop verbeter het.
Hierdie outjie is terselfdertyd “macho” en stylvol en boonop bekostigbaar. Vir my is een van die uitstaande kenmerke die ligte wat lyk soos ’n insek se “versameloë” wat voor aan beide kante vir jou loer.
Met min tyd op hande sit ek toe voet in die hoek sommer op soek na nog ’n storie om te skryf.
Toevallig is daar ’n kunstenaar, Israel Jones op die dorpie Stormsrivier waar herinneringe aan Elvis en Marilyn Monroe steeds lewend gehou word, waarby ek graag inloer.
Israel is in Malawi gebore maar het na Suid-Afrika geïmmigreer om ’n bestaan te kon maak.
By dié kunstenaar is daar altyd genoeg skilderye, draaddierjies en -figuurtjies en sandsteen beeldhouwerke wat goeie geskenke vir familie en vriende uitmaak.
Israel het geen formele kunsopleiding ontvang nie maar het homself van 13-jarige ouderdom leer teken. As sy pa klaar die koerant gelees het, het hy die spotprent uitgeskeur en oor geteken en so dag vir dag sy tekentalent verbeter totdat hy genoeg moed gehad het om sy eie verbeelding te kon inspan.
Hy teken wel diere van foto’s af maar die figure in sy werk is sy eie. Hy gebruik ook gewone huisverf vir sy skilderye. “Plascon, enige iets van die aard,” verduidelik hy. “Ek glo dat dit baie beter as die duur kunsverf is en dit kraak ook nie as ek dit vir die toeriste moet oprol nie.” Die raam van sy kunswerke laat hy aan die koper toe.
“Maar as my kop te vol is van al die geskilder, dan los ek alles net so en maak weer draadornamente, dit verkoop ook maklik aan toeriste wat hier deur ry,” verklaar hy.
En die sandsteenbeelhouwerke?
“Dit is die laaste van my werke,” sê hy en gaan wys my die beelde wat nog daar voor sy ateljee rond staan.
“Ek mag nie meer sandsteen oor die grens vervoer nie, maar wie weet dalk verander die regulasies weer eendag.”
Jones het eers vir ’n paar jaar sy kunswerke op Jeffreysbaai en toe later op Knysna aan toeriste verkoop.
Daarna het hy sy esel en kwaste opgepak, en afgesit Stormsrivier toe waar hy nou al vier jaar woon en werk.
Hy bied ook kunsklasse aan en sê veral toeriste is gretig te leer teken.
“Hier is dit altyd somer, die son skyn altyd,” mymer hy. Dit bedoel hy ook soort van spreekwoordelik. “Gedurende die vakansieseisoen het ek goed verkoop op Jeffreysbaai en Knysna maar as dit winter word was dit doodstil, min toeriste, min geld.”
“Nou gaan dit goed, hier is altyd mense wat deur ons dorp ry, al is dit net om gou te stop op pad iewers heen of aan die aktiwiteite wat hier aangebied word te kom deelneem.”
Na die kuier by Israel het ek en die Fronx die pad terug Baai toe gevat, vinnig, veilig en veral goedkoop teen 5.7 liter/100 km, ’n wenner in moeilike ekonomiese tye.
Bel Israel of WhatsApp hom by 065 289 6564 vir meer inligting.





