Op Sondag 25 Augustus het Mercia Ungerer, een van Jeffreysbaai se mees gerespekteerde inwoners, haar 85ste verjaardag gevier.
Gebore in 1939 in die Humansdorp distrik, as Mercia du Plessis, het sy deur haar lewe ’n onmiskenbare bydrae tot die gemeenskap gemaak.
Mercia het haar studies in onderwys op Graaff-Reinet begin en later Huishoudkunde aan die Universiteit van Stellenbosch gestudeer. Ná haar studies het sy as onderwyseres skool gegee op Despatch, Hankey en Jeffreysbaai.
In 1971 is Mercia getroud met Eric Ungerer, die destydse burgemeester van Jeffreysbaai. Saam het hulle drie dogters grootgemaak: Xandré, Celesté en Erica. Ná Eric se afsterwe het Mercia haar passie vir diens voortgesit deur self vir die plaaslike raad te staan. In 2004 het sy as raadslid van destydse Wyk 3 (vandag bekend as Wyk 11) aangesluit tot haar uittrede in 2016. Tot vandag toe dien sy die gemeenskap deur om as komitee lid van die Wyk 11 Wykskomitee te dien.
Die Ungerer-familie was een van die oorspronklike grondeienaars van Jeffreysbaai, toe dit nog ’n klein dorpie was. Vandag, kan Mercia trots terugkyk op die rol wat sy en haar familie gespeel het in die ontwikkeling van die dorp.
As een van die bekendste inwoners van Jeffreysbaai, word haar nalatenskap steeds gerespekteer.
Met haar 85ste verjaardag was nie net Mercia se lewensjare gevier nie, maar ook haar bydrae tot die geskiedenis en groei van Jeffreysbaai.





