DIE wêreldbekende golwe is nie die enigste ritme wat Jeffreysbaai dié Maart gaan laat bruis nie – die dorp word ook die verhoog vir ’n uitmuntende kuns- en teaterervaring.

Jeffreysbaai Toerisme, in samewerking met Kouga Plaaslike Munisipaliteit, bied met trots Teater by die See aan – ’n naweek propvol bekostigbare teaterproduksies en kulturele vieringe, wat plaasvind van 21 tot 23 Maart 2025. Volgens Jeffreysbaai Toerisme-voorsitter, Deon Freemantle, is die inisiatief ’n stap in die rigting van ’n volhoubare en inklusiewe kunsplatform.

“Ons wil kuns en teater na die mense bring – ’n belewenis skep wat nie net vermaak nie, maar ook inspireer en verbind. Teater by die See is ’n deurlopende projek wat die hele jaar deur geleenthede gaan bied,” sê Freemantle.

Naweek van kuns en kultuur

Die NG Kerk-kompleks op Jeffreysbaai word die tuiste van Teater by die See en bied ’n uiteenlopende program vir alle ouderdomme en belangstellings.

Die naweek skop af op Vrydag 21 Maart om 11:00 met ’n gratis konsert vir pensioenarisse, gevolg deur ’n unieke blommetatoe-klas deur die Blommeklub en ’n vertoning van klassieke motors.

Intussen saai Luister FM regstreeks vanaf die terrein uit tussen 12:00 en 15:00, terwyl Jeffreysbaai se eie Marimba Band die atmosfeer vul met ritmiese klanke.

Vrydagaand se hoogtepunt is ’n magiese vertoning van die alombekende André Schwartz, wat sy produksie “My Pad met Webber” saam met verskeie skole in Kouga aanbied. “Musiek is ’n universele taal,” sê Freemantle, “en hierdie samewerking tussen skole en ’n legende soos André Schwartz is iets besonders.”

Saterdag:

Kindertoneel, talente en Marilyn Monroe

Saterdagoggend bring ’n hoogtepunt vir jong gehore – “Liewe Heksie Vang Vis” deur Margit Meyer-Rodenbeck, wat in 2022 die beste kindertoneelprys by die KKNK gewen het.

Die middag is ’n viering van plaaslike talent met die “Talent by die See”-kompetisie, waar Kouga se talent in verskeie kategorieë ten toon gestel word.

Saterdagaand bring ’n bietjie Hollywood-glans na Jeffreysbaai met die uitmuntende Marion Holm, wat gehore betower met haar vertolking van die ikoniese Marilyn Monroe.

Sondag:

’n Hartsklank afsluiting met Jak de Priester

Die naweek word op ’n gepaste noot afgesluit met Jak de Priester en sy roerende vertoning “Hartkamer”, wat ’n spesiale en intieme ervaring beloof.

Buiten die hoofvertonings is daar deurgaans ’n Kunsuitstalling deur Kouga Art Society en ’n teetuin, oop daagliks vanaf 10:00 tot 19:00. Verskeie plaaslike orkeste sorg vir musiek deur die loop van die naweek, en besoekers kan deel word van ’n self-ry beeldhouroete na Jeffreysbaai se indrukwekkende beeldhou-besienswaardighede.

Bespreek jou sitplek

Naweekkaartjies en blokbesprekings is eksklusief beskikbaar by die Jeffreysbaai Toerisme-kantoor, terwyl individuele kaartjies deur Quicket en die Toerisme-kantoor gekoop kan word.

“Teater by die See is ’n geleentheid om kuns en die kuslewe te verbind op ’n manier wat uniek aan Jeffreysbaai is,” sê Freemantle. “Kom wees deel van hierdie wonderlike ervaring – ons kan nie wag om jou daar te sien nie.”

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article