Elmarie Groenveld (57) en Susan Palfrey (57) het vroeër vandeesmaand hul nuwe besigheid, Harvest Moon Deli, in Jeffreysbaai oopgemaak. Hier vind jy heerlike etes in ’n boks (soms volksvreemd), speserye en sade by die teelepel, verskillende olywe, ryswyn en outydse konfyt. Foto:MONIQUE BASSON


.DIE groot rak kreun onder olywe – swart, groen, Italiaans, gerook en selfs songedroog.

Neffens is olyf-marmelade, -blatjang, -olie en -slaaisous in netjiese rye. Helderkleurige, ingelegde rissies in glasbottels staan op die tafel en tuisgemaakte konfyt pronk baldadig in die middagson.

Daar is tot olyfseep.

Susan Palfrey (57) en Elmarie Groenewald (57), mede-eienaars van Harvest Moon Deli in Jeffreysbaai, groet met entoesiastiese glimlagte waar hulle in die middel van hul nuwe winkel staan.

Agter hulle is houers vol sade en speserye. Dié is te koop per teelepel. Net links daarvan is heerlike kaas en vars vleis.

Ek vra vir dié dinamiese tweemanskap oor hul nuwe onderneming – ’n eenstop-winkel vir tuissjefs en kosliefhebbers. Òf jy nou boerekos wil maak, òf ’n meer eksotiese Asiatiese-gereg aanmekaar wil slaan.

Of net ’n voorgebakte brood of fyngebak wil koop.

Want dié twee hardwerkende vriendinne – wat mekaar twee jaar terug op Facebook ontmoet het – is nie sommer gewone beroepskokke nie.

Alles behalwe.

Palfrey borrel van passie: “Ons is albei groot kosliefhebbers wat ons passie met ander wil deel – met die hulp van ons unieke ete-in-’n-boks en produkte, natuurlik.’’

Maar hoe het ’n Johannesburg-rekenmeester en voormalige invorderaar van Engeland in die plaaslike koswêreld beland?

Die begin

’n Tekort aan bestanddele – veral Asiatiese bestanddele.

Palfrey frons liggies: “Ons het vroeër vanjaar ’n Chinese kookpartytjie gehou, maar dit was ’n stryd om al die nodige bestanddele te kry – sewe winkels later en ons was steeds verskeie produkte kort.

“’n Groot frustrasie. Veral na jare se verblyf in Engeland en Johannesburg onderskeidelik, waar alles geredelik beskikbaar was.

“Dit is waar die idee van ’n eie deli begin het – om ander mense in dieselfde bootjie as ons, te help. Terwyl ons groot pret het.”

Nagenoeg ’n jaar later het Harvest Moon Deli sy deure geopen.

Buite die boks

Wat maak dié deli uniek?

Behalwe vir hul grooot verskeidenheid pro-dukte, hulle etes-in-’n-boks – Groeneveld se groot passie.

Sy glimlag: “Elke boks bestaan uit verskillende droë en nat bestanddele (byvoorbeeld speserye, sojasous, ryswyn en visolie) – tot die millimeter gemeet – asook varsprodukte en ’n stap-vir-stap resep waarmee jy ’n smaaklike ete by die huis kan berei.

“Hetsy beesvleis in swart boontjiesous of pasta.”

Daar is tans 12 verskillende etes-in-’n-boks: Asiatiese-disse (Japanees, Chinees en Thai), ’n Italiaans-reeks en meer bekende boerekos.

In die pyplyn is disse van Mexiko, Holland en Frankryk.

Al die “boks-bestanddele” is ook afsonderlik te koop – in groot- of kleinmaat.

Maar dit stop nie daar nie.

Nóg meer

Hoewel hulle die essensie van tradisionele piekels, rissies, konfyte en blatjang behou, sit hulle ook hul eie unieke en moderne stempel op die deli.

Dié twee vennote spog met ’n ’n groot verskeidenheid olywe en olyf-produkte, asook kaas, vleis, vars groente, speserye, souse en sade – onder meer vier verskillende peperkorrels: pienk, wit, swart en groen.

“Dit is nie nodig om die hele bottel of blik van ’n sekere produk te koop nie,” sê Groeneveld. “As jy net ’n bietjie visolie of ’n teelepel mosterd- of sesamesaad nodig het, is dit wat jy koop.”

Daar is verder klaar- en voorgebakte brood en fyngebak. Binne minute reg vir die oond.

En moenie van die vars pasta vergeet nie. Ja, inwoners kan hul eie pasta (met ’n heerlike vulsel en sous) by die huis maak.

Vars hoenderlewer- en sampioen-patee rond die inkopielys af.

Al hul produkte is preserveermiddel-vry.

“As daar iets is wat jy soek en dit is nie op die rak nie, sal ons dit vir jou kry,” sê Groeneveld. “Al moet ons dit van Johannesburg kry of van Holland invoer.”

Inligting

Vir meer inligting, skakel Harvest Moon Deli by 065 694 4600 of besoek hulle by die JBay Surf Village in Da Gamaweg.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article