Die akteur Phillip Henn het ’n debuutroman “500 myl” geskryf.

Foto: Verskaf

Cowboys, crooks en Indians in die destydse “Western movies” het hom as kind gefassineer. Die storielyn was eenvoudig. Daarby het sy belangstelling in die gebeure tydens die Anglo Boere-oorlog hom aangegryp. Dit het alles daartoe gelei dat die bekende akteur, Phillip Henn, sy debuut-jeugroman 500 Myl geskryf het.

“Dit was eers my plan om ’n draaiboek vir ’n film te skryf, maar het raad van kundiges gevolg om eers die roman te publiseer. Ek het besef watter groot rol die penkoppe – die seuns van vyftien jaar en jonger, tydens die Anglo-Boere Oorlog vervul het.

“Hulle moes met mausers veg wat groter was as hulself. Daarby het hulle kwalik geweet waaroor die oorlog gaan,” sê Henn.

Dis vir nie-lesers

Hy het diep navorsing gedoen oor die tydperk en afgekom op treffende stories en karakters. “Ek was geïnspireer deur ander se stories en het met outeursvryheid ’n lekkerlees roman geskryf.

“Dis nie geskryf vir hoë literêre menings nie, maar bedoel vir mense wat nie hou van lees nie. Die boek lees baie maklik. Dis soos ’n heerlike boereworsrol – nie ’n gourmet toebroodjie nie.

Fokus

“Ek wou vertel hoe die kinders die oorlog beleef het. Hulle wou eintlik net oorleef. Hulle was braaf, toegewyd en ware vriende.

“Kinders was die slagoffers van die oorlog wat deur grootmense geskep is. Dit sou eintlik ’n anti-oorlog fliek wees.”

Navorsing

Henn het jare lank navorsing gedoen oor veral militêre aspekte. Dit moes geloofwaardig wees. Hy moes weet hoe ver kan ’n perd ry, wat die kinders ontbeer het en watter skade ’n wapen aanrig. Ook oor kleredrag, eetgewoontes en kulturele gebruike.

Die karakters in die boek bestaan werklik. Sanna de Jager is die enigste meisie in die storie – ’n tipiese Vrystaatse meisie.

Die storie speel af in 1901 toe 420 000 Britse soldate Suid-Afrika toe gekom het.

Daar was sowat 18 000 boere wat bereid was om tot die bittereinde teen hulle te veg. Hiervan was bykans 3 000 seuns vyftien jaar en jonger.

Een nag het sewe Penkoppe besluit om te vlug. Hul avonture, swaarkry, romanse en oorlewing word raak beskryf.

Jongmense

“Ek wil baie graag hê dat veral jongmense die boek moet lees. Moenie jouself onderskat nie. Jy is nie net ’n kind nie. Hier sal jy sien hoe die kinders die waarde van vriendskap leer.

“Vriendskap is ’n ernstige ding en word verdien. Híérdie kinders moes grootmens besluite neem. Dalk word vandag se kinders te veel beskerm. Ek wil sien dat jongmense begin ernstig dink oor hulle kulturele herkoms.”

Planne

Henn hoop dat die boek ’n film sal word. Hy beplan reeds aan ’n opvolgboek oor wat van die karakters geword het. 500 Myl is in die proses om in Hollands, Russies, Duits en Engels vertaal te word.

Bestel

Die boek kan by www.500myl.com bestel word en Henn onderneem om elke bestelling wat voor 14 Desember in die Kouga-area gedoen word, te onderteken en persoonlik af te lewer.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article