Of mens jou nou doodbekommer oor die lewe, of nie, niks gaan verander nie. So…WyWorrie?
WyWorrie
Dis die unieke naam van die nuwe café in Da Gamastraat. Hier wag baie spesiale, goeie koffie op jou, en die heerlikste platbrode en slaai, fyngebak en kos wat jy in die hardloop kan gryp.
Hulle het eers in Paradysstrand sake gedoen as “The Secret Kitchen”, en toe dié perseel bekom. Dit sou ook hier die naam wees.
Maar toe vind hulle uit dié huis wat uit 1945 dateer, was voorheen ’n vakansiehuis met die naam WyWorrie. Dit het byval gevind by hulle en dis hoe dit nou bekendstaan.
Die twee entoesiastiese jong mans wat dit bedryf, Johan Strydom en LG Coetzee, sorg dat alles uitmuntend is. “Elke ding wat hier verkoop word, word hiér gemeng, gebak en geknie. Geen kitsbestanddele nie,” sê LG trots. Hule voorsien ook vegangeregte.
Keurige koffie
“Ons glo ons koffie is die beste wat jy moontlik kan kry. Ons gebruik produkte van Truth Coffee in Kaapstad, wat al drie keer aangewys is as die beste ‘coffee shop’ ter wêreld. Ons het ook intensiewe barista opleiding daar ondergaan, en die wetenskap van koffie geleer,” verduidelik Johan. “Hier het ons ook geleer hoe belangrik die kwaliteit van die water is wat vir koffie gebruik word. Ons het baie moeite gedoen om filters aan te skaf wat die water se kwaliteit perfek maak.”
Gasvrye manne
Johan en LG is albei lief vir musiek. Behalwe vir die spesiale Franse kafee musiek wat hier gehoor word, beoog hulle om gereeld saans koffiehuiskonserte te hou. Die klavier is gestem en die Franse atmosfeer kleur die prentjie mooi in!
Johan is die orrelis by die NG Kerk in Da Gamaweg met musiekkwalifikasies van die Universiteit Stellenbosch, en kom van die Langkloof.
Hy en LG het vroeër ’n trouvenue in die Sondagsriviervallei bedryf, waar LG vandaan kom. LG was eers in die inligtingtegnologie bedryf, het op die familie sitrusplaas die leisels gehou, en is opgelei as ’n sjef. Patisserie is sy spesialiteit.
Albei is baie lief vir reis, en Praag is hulle gunsteling bestemming. “Die sjarme van die stad en veral die goeie koffie hier lok ons telkens terug!” sê Johan.
“Jeffreysbaai het onder ons vel gekruip – ons is albei lief vir die see, reis, goeie koffie en kos, en ouwêreldse sjarme. Ons wil graag sien dat mense by WyWorrie dit alles kom geniet en hartlik gesels. Hier is ook plek vir die wat dalk werk wil inhaal.”




