Daniel de Vos, matriekleerder aan die Hoërskool McLachlan, het as ambassadeur as Mnr. McLachlan, saam met sy skoolvriend, Ruben Barnard, die seuns op die rugbyveld touwys gemaak. Foto:VERSKAF


ASVAAL knieë van lekker speel het bewys dat wind en weer nie die gees van jeugdigheid demp nie.

Ter viering van Jeugdag op Saterdag, 16 Junie is ’n rugbykliniek vir 29 seuns in Joubertina op die Hoërskool McLachlan-sportgronde aangebied.

Daniel de Vos, matriekleerder aan die Hoërskool McLachlan, het as ambassadeur as Mnr. McLachlan, saam met sy skoolvriend, Ruben Barnard, die seuns op die rugbyveld touwys gemaak.

Die geleentheid is gehou in samewerking met Elsje Kritzinger, maatskaplike werker betrokke by die Emmanuel Kinderhuis en VALK (Voorkoming van afhanklikheid in die Langkloof)-projek.

Kritzinger het seuns vir dié pretdag geïdentifiseer wat “gereelde gesiggies” is by aktiwiteite wat sy en haar span reël.

Tydens die kliniek het die seuns onder meer wenke oor hoe-om-te-duik en balhantering ontvang.

Hul bereidwilligheid om te leer, het De Vos opgeval. Hulle het herhaaldelik gevra: “Doen ek dit reg?”

Dié groep kon ná die oefensessie hul nuwe kennis inspan toe hulle in spanne verdeel is om teen mekaar ’n wedstryd te speel.

De Vos noem ook hoe die kinders ‘gewonder’ het waar die sop is wat gewoonlik met brood by sulke funksies gepaardgaan.

Dit was vir hom te kostelik hoe dieselfde kinders, volgestopte kieste en hande-wat-vra, nog braaivleis en spring- mielies soek en sê dat hulle nog nie gekry het nie.

Die dag is afgesluit met ’n prysuitdeling vir onder meer die “beste speler”, “hardste tackle” en “beste leierskap”. “Ondersteuner van die dag” is toegeken aan ’n seun met breinkanker, wat weens ’n onlangse operasie, nie aan die aktiwiteite kon deelneem nie.

Volgens De Vos wou hy net vir sy naaste iets doen. “Ek het die dag nie gereël om deur ander gesien te word of om iets terug te verwag nie; slegs om uit te reik na hulle wat soveel minder het as ek.”

Hy beoog om teen die einde van die jaar genoeg fondse te bekom om ’n vlugbalnet vir Emmanuel Kinderhuis op te rig.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article