DIT is al ou nuus: misdaad is skynbaar ’n alledaagse ding in Jeffreysbaai.

Die besonderhede van ’n voorval in Wavecrest is onlangs deur ’n jong meisie (wie se naam weerhou word) op openbare media ge-deel.

Sy berig dat daar in Wavecrest by huise en motorhuise ingebreek word. In Dogwood-straat het ’n inbreker, volgens haar, deur hul motorhuis toegang tot die huis gekry. Toe hulle gaan ondersoek instel, het hulle skielik in die middel van hul woonkamer op hom afgekom. Tydens die konfrontasie wat gevolg het, was sy verskoning dat hy net na ’n bietjie water kom soek het!

Nie minder nie as 43 lede van die publiek het op hierdie berig gereageer. Reaksies het gewissel van frustrasie en rou woede tot dreigemente. Van die publiek soek ’n foto van die oortreder. ’n Vroulike lid van die dorp wou weet waarom die meisie andere waarsku, terwyl die man gearresteer kon word. Die meisie se verweer is dat sy 17 jaar oud is, dat die man hom uit die voete gemaak het en dat sy as vrou hom nie fisies kon konfronteer nie. Ander mense dreig eenvoudig met geweld.

Intussen berig Hanli Delport op sosiale media dat ’n man verlede Vrydag by Magna Tubes, oorkant die onderste Checkers-sentrum, in die openbare toilet aangeval en be-roof is. Lede van die publiek het agter die verdagte aangehardloop en die polisie geskakel. Hulle het skynbaar nie opgedaag nie, en volgens ’n ooggetuie loop die aanvaller op en af in Da Gamastraat, en ’n mens kan maar net wonder waarmee hy besig is.

Ook op hierdie berig het ’n groot aantal lede van die publiek kommentaar gelewer. Daar word onder andere gekla oor die stank rond-om die geriewe, omdat dit saans gesluit word en taxi-drywers, sommer die agterste muur as ’n urinaal gebruik. Soms gebeur dit voor strandgangers, kinders wat van busse afklim en verbygangers. Mense voel ook onveilig om van die toilette gebruik te maak, omdat daar altyd ’n klomp rondlopers op die grasperk lê.

Deel van die probleem is dat daar oral groepe leeglêers rondhang en niemand weet of daar misdadige elemente tussen hulle skuil nie. Dis veral die geval by dié parkeerruimte langs die strand. Verder is daar in die formele woongebiede net te veel digbegroeide erwe waaraan nie die eienaars of die munisipaliteit aandag gee nie. Dit is maklike skuilplekke vir voornemende misdadigers.

Tensy ’n reuse-petisie aan die munisipaliteit voorgelê word wat eis dat erwe skoongemaak moet word, lyk dit nie asof daaraan iets gedoen sal word nie: die situasie gaan al vir baie jare ongehinderd voort.

Slegs die publiek kan met massa-optrede dié probleme oplos.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article