Tyd, aandag en ’n ingestelde oog het gesorg vir hierdie miniatuur wonder wat noukeurig geskep is deur plaaslike Oesterbaai inwoner, Philip Nagel.
Nagel (64) sê hy het ’n kreatiewe gawe ontvang wat hy op verskeie maniere uitleef. Voordat hy sy West Blocton replika aangedurf het, het hy sy Oesterbaai huis in model vorm gebou. Sy liefde vir treine, model bou en aandag vir fyn handgemaakte detail het hom geïnspireer vir die groot projek.
West Blocton wat in Alabama in die VSA gestig is, met sy koolmyn geskiedenis het Nagel se aandag getrek. Met fokus op die laat 1800’s en vroeë 1900’s (met ’n spesifieke model trein in operasie) het hierdie Amerikaanse dorpie duidelik Nagel geïnspireer vir die spesiale projek.
Vanaf die eerste oomblik van pen op papier met sy beplanning tot die laaste plasing van ’n miniatuur boompie, het dit Nagel drie jaar geneem om sy projek te voltooi. Ure op die internet sorg vir noukeurige navorsing, waar daar ook tyd in die natuur gespandeer was vir die optel van takkies, klippies en gruis, wat sorg vir ’n werklike gevoel van die miniatuur dorpie.
Nagel gebruik Balsa hout, spuitverf, en gom as sy gekose mediums om hierdie dorpie in die lewe te bring. Klein figure van die dorp se infrastruktuur is alles handgemaak, selfs die bome, bale hooi, elke geboutjie, dakteëltjies, kole en gruis is self gekap. Die enigste nie- handgemaakte items in die miniatuur dorpie is die model mens en dier figure, elektronika en die trein (wat operasioneel is).
Mens staan in verwondering as die liggies aangaan, die klavier in die saloon begin te speel en die mense lag en gesels in West Blocton, dan word Nagel se handewerk opreg waardeer.




