Foto ter illustrasie.

Foto: iStock

Daar is sekerlik nie ’n groter vreugde om te aanskou as ’n hond wat jou tuis verwelkom nie. Dit laat die vaalste of hartseerste dag verander in een van dankbaarheid oor dié onvoorwaardelike liefde en blydskap.

As kind het ek ’n swart Franse poedel gehad, Peppie. Eers toe ek ouer word, het ek besef dat ek hom nog meer aandag moes gee en vertroetel.

Mettertyd het ek besef ek is ’n kat-mens. Ek was nog nooit sonder ’n kat nie. My laaste langhaar-kat met die groot blou oë, Miss Daisy, het ek by Animal Welfare aangeneem.

Sy was soos die meeste katte, die baas van die huis en het ’n besondere persoonlikheid gehad.

Sy het selfs die oorlede sanger Randall Wicomb – wat niks van katte gehou het nie – oorrompel en op sy bors haar lêplek gekry toe hy by ons tuisgegaan het tydens sy laaste konserte in die Oos-Kaap. Hy was toe reeds baie siek aan kanker. Hy het erken dat Miss Daisy hom gekalmeer en geliefd laat voel het.

Ongelukkig moes Miss Daisy, na twaalf jaar by my, by haar sussies gaan bly omdat katte nie in ons dorpshuiskompleks toegelaat word nie. My hart is steeds seer en ek verlang na haar.

Intussen het ek sommer baie lief geword vir honde. My destydse kollega, Janine Lee, het my oortuig om ’n hondjie te kry. So het die Maltees, Toffie Fourie, deel geword van my lewe. Parmantige krulstert brakkie, ook gered. Vir vyf jaar lank my bondgenoot tot hy per ongeluk doodgery is. Die verdriet ná sy dood was net te erg en ek het besluit: nooit weer nie.

Maar gaandeweg het ek die nat snoet, opgewondenheid en maat gemis. Dis hoe Fielies Fourie haar intrek by my geneem het.

Mensig! Wat ’n vreugde is dit nie om ’n kame-raad te hê wat jou geheel en al verstaan nie. Wat áltyd lus is om te doen waarvoor jy lus het … van strand toe gaan tot middagslapie, rondry, kuier, of net heeltyd by jou te wees om mee te praat.

Haar lang wit haartjies moes onlangs geskeer word weens al die seewater en seesandkaperjolle, en daarvan het sy niks gehou nie. Maar die stert en hart is duidelik verbind, want die stert swaai weer jolig.

Aanraking is so ’n uiters belangrike aspek van lewende wesens se bestaan. Sonder aanraking vergaan mens en dier. Hoe troostend is dit nie as iemand oor jou rug vryf, hand vashou of ’n skouerdrukkie gee nie. Energie word oorgedra en emosies word opgewek. So is Fielies Fourie vir my ’n besondere vriendjie. Altyd in ’n goeie bui, kla nooit, is tevrede met die kos, lewenslustig en ’n lieflike sin vir humor.

Nou is dit Kerstyd. Vir my sal ’n nat snoet en soentjie van haar die beste geskenk wees. Ek is so dankbaar vir die pelskind wat soveel bring en my hart vol lê. My grootse wens is dat alle vierpoot kinders hierdie Kerstyd oorlaai sal word met liefde, bederfies en tyd.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article