Vir vyftig jaar was daar byna nooit ’n afnaweek vir Meneer Derek nie: hy was net altyd, en is steeds, langs die krieket- of rugbyveld met sy spelers.
Eers hoërskoolseuns, en die afgelope paar jaar laerskoolkannetjies. Ses maande van die jaar langs die krieketveld, en die ander ses maande langs die rugbyveld, en ook die hokkieveld.
Tydens die pas afgelope Aloe Cup op Jeffreysbaai waar laerskoolspanne van die Kaap tot die Vrystaat jaarliks saamtrek vir rugby- en netbaltoernooie, is Derek Drake vereer vir sy onbaatsugtige diens aan kinders op die sportveld.
Vereer vir 50 jaar sportafrigting
’n Uittreksel uit die huldiging: In honour of Mr Derek Drake, the stalwart beacon of guidance and inspiration at Jeffreys Bay Primary School, we gathered to celebrate an extraordinary milestone — his 50th year of coaching. Half a century devoted to shaping young minds, moulding characters, and instilling values that transcend the classroom. Mr Drake’s dedication to the students of Jeffreys Bay Primary is nothing short of remarkable, his impact immeasurable, and his legacy enduring.
“Die huldeblyk was regtig ’n groot verrassing vir my! As ek ’n afstandmeter gehad het, sou ek al seker ses keer om die aarde gery het met ’n skoolbus. Ek het al duisende ongelukvrye kilometers afgelê met ander mense se kinders.”
Derek Drake rig op die ouderdom van 78 steeds die jong klomp af – nie net in sport nie, maar ook vir die lewe.
“Solank ek ’n bydrae kan maak, sal ek aanhou afrig. Die benadering vir hoër- en laerskool is maar dieselfde – dit neem net langer met die kleintjies,” sê die Meneer wat die o.11 rugby-en krieketspannetjies touwys maak.
Loopbaan
Hy was self ’n veelsydige sportman op sy dae. Aan die HTS Oudtshoorn was hy onder meer die kaptein van die Suidwestelike Distrikte krieketspan van Graad 9 tot 12. Hy het ook vir verskeie ander provinsiale en streekspanne gespeel, en was ook ’n provinsiale atleet. Na sy opleiding as elektrisiën by General Motors, het hy in sy agt jaar in die industrie baie mensekennis opgedoen.
Na sy onderwysstudies in Pretoria, het hy in 1975 begin skoolhou by die oudste tegniese skool in die land, die Hoër Tegniese Skool Daniël Pienaar, op Kariega.
Hy is na 30 jaar as Departementshoof: elektries, na die Laerskool Jeffreysbaai waar hy tot 2009 verskeie skoolvakke aangebied het.
Sport leer kinders dissipline
“Dis soms nodig om ’n outjie vir twee of drie wedstryde te skors. Mens leer kinders op die sportveld op ’n ander manier ken. Soms het hulle min selfvertroue of sukkel met woede uitbarstings. Met sportreëls leer hulle dat die lewe ook reëls het,” verduidelik Mnr. Derek.
“Dis belangrik om vir hulle sportmangees aan te leer en hulle opponent te respekteer. Kinders moet in hulself glo. Tydbestuur en veratwoordelikheid is net so belangrik. Ek leer hulle om mense in die oë te kyk as hulle groet. Sport bied ’n geleentheid om die kind se menswees aan te spreek,” beklemtoon hy.
“Ouers moenie hulle drome op hulle kinders projekteer nie. Nie almal gaan Springbokke word nie. Dit moet vir hulle ’n plesier wees en dit geniet.”
Hy was ’n pa vir duisende
As ’n ervare koshuisvader vir 19 jaar by die HTSDP, weet hy hoe nodig veral seuns ’n vaderfiguur het.
Hy vertel bewoë hoe hy op ’n keer by ’n rugbywedstryd met die klein mannetjies, ook kinderhuis outjies gehad het.
Een van hulle het hoopvol om Derek se bene vasgehou en gevra: “Is oom dalk my pa?”
Hy kweek groot sportmanne
Derek Drake het bygedra daartoe dat talle van die leerlinge wat deur sy hande is, al groot sportmanne geword het.
Onder hulle tel Jacques Greeff (OP rugbykaptein en slot), JP van der Mescht (SA skole span, en vir provinsiale spanne), Jacques Potgieter (Springbok slot), Nantie Hayward (Protea krieketspeler), Jan Stander (speel krieket vir Skotland), Coenie Nel (speel om die beurt vir Engeland en Australië), en Heino Bezuidenhout (Blitsbok).
Hy het ook by HTDP saam met twee oud Springbokke – Hermanus Potgieter en Buks Marais, afgerig.
Hoogtepunte
Daar is talle hoogtepunte waarna hy met smaak verwys:
“Die dag toe HTDP vir Paarl Gimnasium se o.14 span geklop het – ’n span wat in drie jaar net een wedstryd verloor het. Schalk Burger junior en Jean du Plessis was in hulle span,” sê hy tevrede.
“En dan die dag in 2004 toe HTDP die o.14 span van Waterkloof, op hulle veld en met hulle skeidsregter, pak gegee het. Hulle span was almal Cravenweekspelers van die vorige jaar.”
Dankbaar vir ondersteuning
“In al my jare van afrigting, het geen ouer my spankeuses bevraagteken nie. Ek waardeer my vrou Veronica, en twee kinders, Angelique en Norman, se ondersteuning.
“Dis taai om nooit ’n afnaweek te hê nie. As ek nie sport gehad het nie, was ek aan diens as koshuisvader. Ek moes destyds elf selfmoorde van leerlinge en ouers hanteer.
Skoolvakansies is daar sporttoere. My eie kinders het langs die sportveld grootgeword. Dis maar hoe dit is,” sê hy gelate.
Norman was sy hele hoërskoolloopbaan lynregter, en het hom al vroeg by die skeidsregtersunie aangesluit.
Waar hy nou in Saudi Arabië werk, is hy al as skeidsregter van die jaar aangewys, wat sy pa baie sommer trots maak.Hy is ook op die internasionale rugbyraad se ‘citings’ komitee om te help met beslissings.
Angelique, ’n voormalige internasionale lugwaardin, was tot onlangs betrokke by ’n 7’s Rugby Akademie op Stellenbosch.
“My onderwysloopbaan was my passie. Ek het dit beskou as ’n geleentheid om ’n baksteen in leerlinge se lewensmuur te bou. Ek was geseënd om by die Laerskool Jeffreysbaai, met entoesiastiese personeel, te kon aftree.”
Nog nie die einde nie
Derek Drake is nog lank nie klaar om die klein japsnoete af te rig nie.
“’n Sakeman van die dorp, Pieter Hancke jnr, het ’n krieket akademie vir o.9 tot o.11 gestig, en goedgunstig ’n kolfblad aangelê. Dis vir my wonderlik om nou daar te help. Ons het nou bietjie afgelê vir die rugbyseisoen, maar begin eersdaags weer. Enige skool in die Kouga area kan hulle o.9 tot o.11 seuntjies op ’n Saterdagoggend stuur om bietjie op gras krieket te speel,” sê die 78-jarige Meneer wie se fut nog lank nie uit is nie.



