AS jy in sprokies glo en steeds op soek is na jou padda-wat-in-’n-prins(es)-verander moet jy definitief die Padda-safari by die Dune Ridge Country House op jou lysie van doendinge skryf.
Maar, op dié safari sal Henry Maarman, wat gewoonlik besoekers op die tipe safari’s begelei, jou heel moontlik afraai om sommer links en regs paddas te begin soen!
Moet nou nie teleurgesteld wees nie, die uitstappie wat ongeveer twee ure duur is interessant genoeg om jou vir ’n wyle van ’n padda-prins of –prinses te laat vergeet.
Sarah-Jane Swanepoel is die eienaar van die Dune Ridge Country House waar besoekers reeds vanaf 2012 Oos-Kaapse gasvryheid terdeë kan geniet.
“Dune Ridge is op 4 500 hektaar kus-natuurreservaat geleë wat aan Eskom behoort,” sê Swanepoel.
“Ek huur net die gedeelte waarop die gastehuis en bos-spa is. Die uitstappies word hier op die reservaat in die vleilande aangebied. Omdat ons ook as beskermheer van die reservaat optree, doen almal hier alles in hulle vermoë om te verseker dat daar geen besoedeling is nie. Die hoeveelheid padda-spesies wat gewoonlik hier voorkom is gevolglik ook ’n goeie aanduiding dat die ekosisteem hier baie gesond is.”
Daar is ongeveer 150 padda-spesies in Suid-Afrika waar 32 spesies in die Oos-Kaap voorkom en nege daarvan in die reservaat gesien kan word.
“Omdat paddas gewoonlik in die nag aktief is begin die uitstappie – of frogging soos dit bekendstaan – eers so teen 19:30 wanneer dit al sterk skemer begin raak en gewoonlik maar in die somer wanneer die paddas broei,” sê sy.
“Besoekers is welkom om voor die tyd sommer hier by Dune Ridge aandete te geniet sodat hulle betyds vir die uittog na die vleilande kan wees, of nog beter, boek sommer vir ’n hele naweek se kuier hier in!”
Die uitstappie gaan natuurlik gepaard met ’n stel rubberstewels, ’n vangnet en ’n sterk flits.”
“Dan volg mens maar die klank van die paddatjies se hofmaak-serenades totdat jy hulle te sien kry.”
“As gevolg van die droogte die afgelope paar jaar het die paddas al so vroeg as in Augustus begin broei. Die uitstappies hang ook natuurlik daarvan af.”
Behalwe dat die uitstappies vir besoekers gewoonlik geweldig interessant en leersaam is omdat elkeen wat gevang word se ka-raktereienskappe bespreek word, het dit ook ’n ander doel.
“Dit is goeie manier om die paddas te monitor – wat belangrik is om seker te maak die ekosisteem gesond bly,” sê sy.
“Die paddas wat gevang word, word geïdentifiseer, gelys en dan weer vrygelaat om voort te gaan met hulle ge-opsittery in die vlei!”
By die Dune Ridge Country house kan besoekers ook begeleide uitstappies in die inheemse bos met sy verskeie voëlspesies onderneem, die duine gaan verken en daarna bederf word met ’n heerlike lyfmassering by die bos-spa. Die ensuite-kamers het elkeen ’n private ingang en daar is ook ’n familiekamer waar sommer die hele gesin in kan tuisgaan.
Behalwe om die dag op die strand deur te bring en in die somer in die see af te koel is daar in die nabye omgewing is ook meer as genoeg om te doen soos gholf speel, ’n rit op die St. Francis-kanale of ’n besoek aan die Seal Point-lighuis in Kaap St. Francis.
Dit kos R200 vir volwassenes en R100 vir ’n kinders jonger as twaalf om aan die padda-safari deel te neem.
Skakel 042 294 1560 of 082 500 4922 of besoek Dune Ridge Country House op Instagram by dune_ridge en die webtuiste by www.duneridgestfrancis.co.za, of die Facebookblad vir meer inligting.
Bel Esti by 073 825 0835 en Eric Stewart by 082 394 7363 vir inligting oor die Chokka-stap-roete waarby die frogging opsioneel ingesluit kan word.




