HET jy iewers ’n aandrok in jou kas wat ’n Aspoestertjie in ’n prinses kan verander?
Ja? Stof af daardie lang-vergete uitrusting en help minderbevoorregte meisies van Kouga se drome van ’n perfekte matriekafskeid waar word.
Hoe werk dit? Jeffreysbaaier Deodette le Roux het vroeër vanjaar die Prinses-Projek, ’n internasionale projek, in Jeffreysbaai van stapel gestuur. Dié projek, oorspronklik begin deur die voormalige Mej. Suid-Afrika in 2008, Jo-Ann Strauss, poog om meisies wat goed op skool presteer, se matriekafskeid spesiaal te maak.
“Hierdie projek gaan daaroor om vir meisies wat nie ’n uitrusting kan bekostig nie, die geleentheid te gee om na hul matriekafskeiddans te gaan en soos ’n prinses te voel in ’n pragtige rok,” vertel Deodette.
“Inwoners kan hul rokke, skoene en by-komstighede aan die projek skenk, wat dit dan weer aan geskikte meisies uitleen wat weens finansiële redes nie matriekafskeid toe kan gaan nie.”
Maar Deodette neem die projek ’n tree verder.
“Die Prinses-projek voorsien rokke, skoene en bykomstighede, maar wat van die grimering, hare, handsakke en onderklere?” vra sy. En dus, as daar nood is, sal sy die kinders hiermee ook help. “Jy wil mooi lyk én voel,” sê sy.
“Baie leerders wat nie die klere of ander luukse bederfies kan bekostig nie, kies noodgedwonge om hul spesiale aand mis te loop. Onderwysers by die verskeie skole in die dorp is op die uitkyk vir hierde leerders en vewys hulle na die Prinses-projek.
“Dit gaan hopelik talle meisies help om ’n onvergeetlike herinnering te bou wat hulle moontlik nie andersins sou gehad het nie.”
Deodette het twee voorwaardes vir ma- triekmeises om vir die mooimaak-sessie in aanmerking te kom: pligsgetroue skoolbywoning en ’n goeie gemiddelde klaspunt.
Meisies moet verder R150 betaal. Die geld word vir die skoonmaak en opknapping van rokke aangewend, asook vir grimering en ander bykomstighede.
Tot op hede help sy 16 matriekmeisies van die Humansdorp Sekondêre Skool, die Learning Academy in Jeffreybaai, die Jeffreys Bay Comprehensive High School en JBay Academy.
Deodette benodig ’n versameling uitrusting van verskeie grootttes en style. Sy verlang donasies van die volgende items: aandrokke, skoene, handsakke, juwele en grimering.
Hulp word ook benodig met die mooimaak-sessies op die aand van die geleentheid – met die grimering, hare, aantrek, neem van foto’s en selfs met die vervoer in ’n spoggerige motor.
Sop en wyn
’n Fondsinsameling sop-en-wyn geleentheid word op 16 Junie vanaf 14:00 tot 17:00 by Potter’s Place in Oosterlandstraat, Jeffreysbaai gehou.
Die wenner van ’n handgehekelde kombers van Webb of Love sal op die dag bekendgemaak word. Lootjies teen R5 elk, is by Mengelmoes Kardoes, Wildside en Potter’s Place be-skikbaar.
Toegang is R70 en sluit sop en ’n glas wyn in. Donasies van ’n rok, juwele, grimering of skoene is ’n vereiste op die dag.
Fondse sal gebruik word om onderklere en ander benodigdhede vir die matriekmeisies te koop.
Vir meer inligting, skakel Deodette by 066 202 8479.



