’n Plaaslik bekende vervoerdienseienaar van St. Francisbaai in die Oos-Kaap is die afgelope naweek vermoedelik omgery terwyl hy sy motor se wiel omgeruil het.

Die lyk van André Els (62) is Sondag omstreeks 04:30 etlike meter van sy wit Toyota Aygo-motor op die R330 tussen Humansdorp en St. Francisbaai aangetref.

André Els. Foto: Verskaf
André Els. Foto: Verskaf

Hoewel die polisie nog ondersoek instel, is bevestig dat leidrade op die toneel gevind is wat daarop dui dat ’n silwergrys motor moontlik by die voorval betrokke was.

Vriende van Els, wat grootliks bekend was vir sy vervoerdiens wat dié kusdorp en omstreke se inwoners na die lughawe in Port Elizabeth vervoer het, het hom Saterdagaand laas in Jeffreysbaai gesien.

‘n Hartseer Manda Louw, ’n vriendin van Els, het Maandag nog haar ongeloof uitgespreek oor die skokkende oproep wat sy oor Els se dood gekry het.

“Dit was verskriklik. Hy was so ’n goeie mens. Hy het Saterdag nog heeldag en aand saam met ons gekuier, ons het net nooit gedink dit sal die laaste keer wees wat ons hom sien nie.”

Els het die aand ná die kuiertjie saam met sy vriende in Jeffreysbaai na sy huis in St. Francisbaai teruggekeer toe sy motor ’n pap band gekry het. As gevolg van die domkrag en spaarwiel wat op die toneel langs sy motor gevind is, word vermoed dat hy besig was om die wiel om te ruil toe ’n motor hom raakgery het en daarna versuim het om op die toneel stil te hou.

Sers. Majola Nkohli, polisiewoordvoerder, sê die polisie is na die toneel ontbied oor die Aygo wat in die pad gestaan het, waarna die lyk daar aangetref is.

Omdat Els ’n voorliefde vir die see gehad het, word ’n gedenkdiens vir nabye familielede op die strand beplan, waar sy as in die see gestrooi sal word.

Els word ook oorleef deur ’n seun wat in KwaZulu-Natal woon.

Nkohli sê ’n saak van strafbare manslag word ondersoek. Enigeen met inligting oor die voorval kan speurder-kapt. Shaldon Smith by 071 352 4623 bel.

Via Netwerk24

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article