Francois Strydom en Wilna Moolman was totaal in hul noppies to Kareedouw die Kwêla Dorp van die Jaar 2020 titel gewen het.


Net 8km van die N2, op die grense van die megareservaat, op die pragtige R62 toerisme-roete, ’n uur van Plettenbergbaai, en bietjie meer as ’n halfuur van Jeffreysbaai – dis waar jy die spogdorp Kareedouw sal vind.

Dié dorp in die Langkloof is in ongeveer 1906 gestig en spog met ’n ryk geskiedenis, warm mense en ’n beeldskone ligging.

In die afgelope paar jaar het hulle beslis weer ’n paar bladsye in die geskiedenisboek vol gemaak, en nie net omdat hulle nou met ’n titel spog nie.

Francois Strydom, ’n lewenslange inwoner het dit mooi opgesom: “Ek bly mos in die juweel van Suid-Afrika.

Hier gaan jy eet . . .

Van die wêreld se beste boerewors en droëwors by die Kareedouw-slaghuis tot die koffie en koek van Twin & Co, daar is iets op die dorp vir almal se smaak.

En een van die eetplekke wat jy nie moet misloop nie, is The Sweaty Dutchman Coffee Shop and Bistro, welbekend vir die pannekoek.

Hier kan jy ‘pannekoek’ kry vir ontbyt, voorgereg, hoofgereg en nagereg, so tussendeur die talle ander geregte wat ook aangebied word.

En drink!

Het jy al van karrie gehoor?

Dis al voorheen bekendgestel as “’n dop met skop”.

Maar wat is dit eintlik?

Plaaslike meesterbrouer Nico Gerber het dit so opgesom: “Dit is tuisgekookte heuningbier, gebrou met die hulp van ’n baie sterk moer en ’n sekere soort inheemse plantjie wat volop hier voorkom.”

En dit sal jou lank aan die gang hou.

En baie beleef en sien

Op Kareedouw moet ’n mens lank bly om alles te kan sien en probeer.

Van die standbeeld vir die bosbouer, en ’n oeroue ossewa – die eerste een wat op Humansdorp gebou is – tot die NG Kerk waar oud-premier John Vorster se laaste rusplek is.

Dan is daar die Baard-Bek Social Café wat in die vorm van ’n protea gebou is, die Assegaaibosch Country Lodge en sy avontuurleiers wat jou na die Kougaberge sal neem en ’n rustige kuierplek en restaurant by Norma Jeans Diner wat jou weer laat dink aan Elvis en Marilyn Monroe.

Die staproetes, Boerperd-ritte, voël- en wildbestemmings en vele meer ook nog.

En ál Kareedouw se besighede kon weer hul deure oopmaak ná die inperking weens COVID-19.

So wanneer is die beste tyd om Kareedouw in te vaar? Sommer nou.

Is jy reg om te makietie?

Die volgende twee dae is die ideale tyd om die pad te vat Kareedouw toe. Hoekom?

Suid-Afrika, en veral Oos-Kapenaars, het saamgestaan om Kareedouw die Kwêla Dorp van die Jaar 2020 te noem en ná ’n paar rowwe COVID-jare gaan hulle eindelik die feesvieringe aanpak.

Kwêla bied oor twee dae – 25 en 26 Maart – die langverwagte KIA Makietie aan en almal is genooi.

“Ons gaan nie rus hierdie naweek nie,” lag Strydom. “Ons gaan eers Maandag weer slaap, ons gaan baie goed kuier.”

Strydom was saam met Wilna Moolman die dryfkrag agter die dorp van die jaar-veldtog.

“Ons kan ’n uitnodiging rig aan almal wat die warmte van Kareedouw se mense wil kom verken, al kom hulle net ’n naweek of sommer om te bly,” het Strydom gesê.

“Ons is in ’n baie veilige area – hier is nie malaria nie, nie ’n oorvloed van misdaad nie.

“Ons is ’n klomp baie warm mense hier. Ons geniet mekaar en ons verwelkom enigeen in hierdie pragtige dorpie van ons. Ons is so strategies geleë, jy kan jouself baie besig hou vir baie langer as net ’n naweek.

“Ek dink Kareedouw het iets aan te bied vir elkeen. Die rustigheid, die veiligheid en dan ook als wat saam met die makietie kom. Dis vir almal, klein en groot.”

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article