BOEKWURMS moet hulle plekke bespreek vir Kunskoors.
Nie minder nie as agt skrywers gaan hulle nuutste boeke kom bespreek en bekendstel by Kunskoors se Boekrak-program wat van 1 tot 3 Mei op Jeffreysbaai gehou word.
Kunskoors is ’n opwindende kunstefees in die kleine wat vir die eerste keer hier gehou word. Altesaam dertig produksies word by nege verskillende venues op die dorp aangebied.
Hannes van Wyk, die bekende televisie-aanbieder en akteur, sal die boekbesprekings lei. Die eerste skrywer wat op 1 Mei aan die woord kom, is Karen Horn wat sal gesels oor Prisoners of Jan Smuts. As historikus maak sy gebruik van memoires en briewe om van die stories van Italiaanse oorloggevangenes in Suid-Afrika gedurende die Tweede Wêreld Oorlog te vertel.
Tweede aan die beurt is Nicole Engelbrecht wat meer sal vertel oor haar boeke Killer Stories en Sizzlers. Sy is bekend vir ware misdaadstories. Hierdie boek handel oor die wrede aanval en moorde op tien homoseksuele mans by die Sizzler’s masseer salon in Seepunt in 2003.
Die plaaslike skrywer Louise Viljoen sal hierna in gesprek wees met Hannes oor haar roman Toevlug. Hierin skryf sy oor die ontberings van ’n oorlewende ná ’n staatsgreep in die Kongo. Viljoen vra of blote geloof vertroosting kan bied en diepgeëtste hartwonde weer gesond maak.
Nog ’n plaaslike skrywer, Anchien Troskie, gaan Die Laaste Kanariegeel Notaboek ontsluit. Dis ’n roman oor die geheime tussen ’n ma en haar twee dogters, ’n man en sy vrou, en die leser besef: Niks is ooit soos dit op die oppervlak lyk nie. Haar eerste boek, Dis ek, Anna, het vir haar groot naam gemaak en is 25 keer herdruk.
Nog leeslekkerte!
Op 2 Mei wag daar nog ’n skatkis van boeke en skrywers. Eerste aan die beurt sal Dietloff van den Berg gesels oor RUMI Liefdesverse en Aanhalings.
Dis ’n keur uit die Persiese digter Jalal al-Din Rumi se omvangryke digkuns wat nou ook vir Afrikaanse lesers toeganklik is, danksy Van der Berg se vertaling. Ná sy uittrede as professor het hy hom die afgelope tien jaar op die vertaal van mistieke digkuns toegespits.
Die Waterplek: Gabriëllië van Carina Stander is die slotroman in die reeks. Dit volg op Bergengel, Die Wonderwese en Die Waterplek: Afrika. Hierin keer die twintigjarige Bergengel en sy pa, Gibor, terug na hulle vaderland Gabriëllië.
Sidney Gilroy en Chris Karsten is twee krimi-skrywers wat gaan gesels oor hulle jongste spannende misdaadrillers. In Chris Karsten se Die Keiser Se Duim is twee private ondersoekers, Ella Neser en Lou Pepler, onderskeidelik op pad na België (romantiese redes) en Hongarye (om twee vermiste wynboere op te spoor). Iewers duskant die Donaurivier regeer daar ’n mafioso met die mag van ’n keiser, en ’n donker reis wag op die twee gesoute speurders van Linden, Johannesburg.
In Sidney Gilroy se Bloedsomer is die voormalige stasiebevelvoerder op Parys (Vrystaat), Petunia Moraleng, haar rang kwyt. Sy word oorgeplaas na Mooibaai. Speursersant JP Hendriks, aan wie sy deesdae rapporteer, toon boonop nie ’n greintjie simpatie nie. Een Vrydagoggend in Desember vang ’n vakansieganger met sy hommeltuig se kamera ’n afgryslike toneel vas…
Laaste op die program is Ryan Blumenthal en sy boeke Autopsy en Risking Life for Death. Hier kom die ervarings, en lesse van ’n forensiese patoloog onder die vergrootglas. Hy belig hoe talle van die outopsies gehelp het om misdadigers aan te keer.
In Risking Life for Death (2023) bied Blumenthal ’n meestersklas in forensiese tegnieke. Hy belig die teorie dat ’n misdadiger iets na die misdaadtoneel bring en ook iets daarvandaan wegneem, aan die hand van ware gevalle. Hy sal ook verduidelik hoe om uit te kyk vir leidrade, en hoe die afwesighede van bewyse soms die grootse leidraad is.
Al die sessies vind plaas by die NG Kerksaal Da Gamastraat op Jeffreysbaai, teen R80 per persoon. Kaartjies is beskikbaar by Quicket of by Soria Swart by 082 684 4350. Vir die volledige feesprogram, besoek www.kunskoors.co.za.




