VIER verdagtes wat aangekla is in verband met die moord op Cheswayne Nel (25) verlede jaar op Humansdorp, is borg toegestaan in die landdroshof op dié dorp.
Tydens Dinsdag se hofverrigtinge kon daar slegs ses mense in die gallery toegelaat word weens die COVID-19 regulasies.
Die staatsaanklaer, Lungile Msutu, het voor die hofsitting aan die oorledene se ma, Cathleen Nel, verduidelik waarom die verdagtes op borg vrygelaat gaan word.
Nel het ’n handgeskrewe brief aan die staatsaanklaer oorhandig waarin sy vra dat borg teengestaan word.
Die verdagtes het hulself verlede week aan die polisie op Humansdorp oorgegee, agt maande na die voorval.
Hulle het Dinsdag die eerste keer om borgtog aansoek gedoen.
Msutu het in die hof genoem dat die verdagtes hulself aan die polisie oorgegee het. Hy het ook gesê dat die ondersoekbeampte geen beswaar aangeteken het dat die vier verdagtes op borg vrygelaat moet word nie en dat hulle nie ’n vlugrisiko is nie.
Hulle sal egter onder 24-uur huisarres met streng borgvoorwaardes wees vir die duur van die saak.
In ’n eksklusiewe onderhoud na die hofsitting, het ’n bedroefde Nel in trane aan Kouga Express vertel dat haar seun ’n saggeaarde man was wat nie aan bendes behoort het nie.
Sy vertel dat sy op die aand van sy moord, net na 20:00 ’n oproep gekry het dat haar seun erg aangerand is naby die VGS-kerk duskant die “Point” besigheidskompleks.
“Cheswayne het soos gewoonlik na die winkelkompleks met sy fiets en jukebox gegaan om sigarette te koop. Hy het nooit daar vertoef nie omdat die area bekend is vir sy bendebedrywighede.
“Toe ek die oproep kry, het ek en my man ons dadelik na die toneel gehaas,” het sy gesê.
“Toe ons daar opdaag, was Cheswayne vol bloed en duidelik erg beseer, maar sy jukebox en fiets was nêrens te vinde nie,” het sy gesê.
Volgens haar het mense wat daar saamgedrom het vir haar vertel dat ’n groep mans glo met haar seun gestry het oor sy fiets waarna hy moes weghardloop. Hy is egter in Olifantstraat ingehaal waar hy na bewering oorrompel is en met ’n skerp voorwerp gekap asook met bakstene gestenig was.
“Wat vir my egter ’n raaisel in die hele saak is, is dat daar eers agt maande moes verloop voor die verdagtes hulself glo gaan oorgee het. Dit is vir my ’n raaisel omdat daar om daai rede borg aan hulle toegestaan mag word.”
“Ek het egter volle vertroue in ons regstelsel en hoop van harte dat die volle waarheid oor my kind se moord gaan uitkom en dat geregtigheid dalk eendag sal geskied.”
Die saak is uitgestel tot ’n latere datum. Intussen duur die ondersoek voort.



