HERMAN Stoffberg ry ’n groot bakkie met ’n yslike vrag sakke vol kruideniersware agterop.
Nog twee voertuie kruie saam deur die stofstrate tussen netjiese huisies in die informele woongebied by Oesterbaai.
Drie vietse jong vroue is op en af van die een voertuig se bak om swaar sakke af te laai en aan die inwoners te oorhandig. Hulle is duidelik goed bekend met en ken die meeste mense op die naam.
Die kinders krioel en hardloop neffens die bakkie, elkeen met ’n kosbak en ’n lemoen in die hand. Hulle roep ritmies “COVID-19 . . . COVID-19”, asof dit ‘n speletjie is. Dit is duidelik dat hulle nie werklik bewus is van die omvang van die pandemie nie.
Ek verkyk my aan die flukse vroue wat by elke huis ’n draai maak, ’n pak afgee, bietjie gesels en aanbeweeg. Die son brand, maar hulle werk onverpoos deur die hele dorpie.
Verder gesels ek met Stoffberg om meer van Living Water se projek te hoor.
Living Water
Hy het die geregistreerde NPO in 2007 begin deur watertenke in die Transkei en Kouga by plaasskole te plaas.
“Ons het later by Langfontein en Mondplaas toilette en tenks installeer en onderhoud gedoen. By Boplaas in die Suurveld is ’n gr R-klaskamer en toilette gebou. In die Transkei het ek en ‘n vriend elke jaar watertenke by die ou modderskole gaan plaas.”
In 2013 het Stoffberg begin om ’n geboutjie in die informele buurt by Oesterbaai reg te maak. Madeleine Viljoen het as jeugwerker by Living Water begin werk. Haar taak was om smiddae met die kinders te werk. Sy doen ook leesklasse met volwassenes.
Zanie Stoffberg (26), Herman se dogter, het by Madeleine aangesluit. Sy doen naskoolse en huiswerkklasse, Bybel-lesse en lewensoriënte-ring. Beide die bekwame jong vroue het ’n BTh-graad van Stellenbosch agter hul name.
Aan die begin van vanjaar het Charné Bodington, ’n onderwyseres, by die span ingespring. Sy hanteer die kleinspan soggens in die crèche. Die gebou het ’n groot naambord: Living Ubuntu Edu-care Centre
Dan is daar ‘n vindingryke jongman in die span. Coert Venter werk met die seuns.
Stoffberg en die span wys my die klaskamers en die nuwe deel wat in aanbou is.
“Ons het ook ’n kampterrein op ’n plaas in die Suurveld waar Living Water leierskapkampe vir verskeie van die laerskole se gr 6-leerders aanbied,” sê Stoffberg. “Ons missie is om ’n verskil te maak, en dit is ‘n gebedsaak om dit te laat realiseer.”
Kospakkies
Met die aanvang van die regulasies weens COVID-19, het Stoffberg besef hier gaan hongersnood wees. Hy het op sy ondersteuningsnetwerk begin boodskappe uitstuur
Mense het finansieel ruim bygedra, en sakeondernemings het ingespring om produkte te voorsien. “Ons kon op die wyse vyf keer aan die mees behoeftiges van die broodnodigste kosartikels gee,” verduidelik Stoffberg.
“Vandag is dit die tweede keer dat ons aan die héle gemeenskap kan voorsien. Dít is vanweë ’n skenking deur die Kouga Windplaas aan die St Francis Disaster Group vir St Francis en Oesterbaai. Die St Francis Rotariërs en United Church het die kos verpak. Dit is die pakke wat ons vandag uitdeel.”
’n Vrou staan nader om ‘n pak te kry vir ’n kind wie se ma die oggend gaan afloswerk doen het. Sy haal dit sommer self van die bakkie af.
Elke yslike sak bevat rys, suiker, olie, gis, mieliemeel, samp, blikkieskos en pakkies soppoeier. Soms word pampoen en aartappels ook uitgedeel.
Herman verduidelik dat hy die inisiatief geneem het, maar nie elke dag by die gebou is soos die span om grondvloerwerk te doen nie. “Hulle is die uitvloeisel van die inisiatief.”
Die groep doen indrukwekkende werk in ‘n tyd van bitter nood.
Skakel gerus vir Stoffberg by 0827412733.



