Annatjie Stephens (78) van Jeffreysbaai het onlangs ’n unieke en kleurvolle rok van haar oorlede man, Hercules, se 13 dasse gemaak. Foto:MONIQUE BASSON


VIR haar is ’n das soveel meer as net ’n strop om die nek.

Elke das – bruin en roomkleuring of blou en rooi – herinner Annatjie Stephens (78) van Jeffreysbaai aan haar oorlede man, Hercules.

Dit verteenwoordig veertien jaar van liefde en geluk. En baie lag. Veral wanneer haar jarelange gehoorprobleem vir klein jakkalsies in die kommunikasielyn gesorg het.

Vandag – sewe jaar na sy afsterwe – is hul liefde in ’n kleurvolle dasskepping verewig. Van die parmantige kraag tot by die punte van die rok.

Hoekom ’n rok van dasse?

Stephens glimlag: “Toe ek gedurende my groot grendeltyd-skoonmaaksessie op die tientalle dasse afkom, diep in ’n kas weggebêre, het ek dadelik geweet wat ek daarmee wil maak.

“Sonder twyfel, ’n rok.”

Sy streel liefdevol met haar vingers oor die rok: “Ek het presies 13 dasse gebruik.’’

Kouga ExpressFoto: MONIQUE BASSON

Volgens Stephens het dit haar drie dae ge-neem om die rok te maak: van die lostorring tot die finale produk.

“Al die dasse is in hul geheel gebruik,” sê sy. “Nie ’n flentertjie materiaal het verlore gegaan nie.”

Die fyn gryskopvrou met die lewenslustige oë dra haar skepping met trots, hetsy by die huis of wanneer sy inkopies doen.

“Ek het altyd ’n voorliefde vir naaldwerk gehad,” vertel Stephens wat van kleins af al haar eie knope aangewerk het. “Hoewel ek nooit ’n kursus gedoen het nie en niemand my ooit ge-leer het nie, het ek al drie my kinders se klere gemaak – tot hulle trourokke.

“Dit is ’n gawe wat die Here vir my gegee het.”

Behalwe vir naaldwerk, is sy lief vir koekiesbak en om in die tuin te werk. Asook om te brei – veral slaapsokkies.

Sy het verder ’n boek oor haar lewe geskryf en het volkspele gedoen, tot haar een skouer begin probleme gee het.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article