VERLEDE week Dinsdag het sy huis in Cormorantsingel, Astonbaai gebrand.

Alles weg. Sy knipmesse van sy oupa af was gesmelt. Maar sy klasmaats het soos een mens opgeruk, en met sy terugkom na die skool hul deernis gelééf.

Onderwyser Divan Pienaar is trots op sy klas by die Jbay Academy Primary. Hy vertel hoe “ongelooflik hartseer” die voorval was, maar hoe sy graad 4-klas hom vestom het toe die seun twee dae later terugkom skool toe.

“Toe ek vroegoggend in die klas kom, het elke leerder, sonder dat ek enigiets genoem het, iets vir hom gehad: kledingstukke, geld vir kos by die snoepie, tot ‘n briefie,” sê hy.

“Dit het my so verstom, want die belangrikste ding wat ek my leerders leer, is nie net vakinhoud en algehele kennis nie, maar dat ons moet staan as ‘n eenheid. As ons nie saam gaan staan en na mekaar omsien nie, gaan niemand dit doen nie.

“My klassie weet dat as een in die moeilikheid is, dan sit ons almal in die moeilikheid. Hulle het die konsep daardie dag geleef en vir my as hul onderwyser bewys en so trots gemaak.”

Volgens Pienaar het een klasmaat dat die seun by hom kom bly vir ‘n paar dae. “Dit was goed om te sien hoe die hele gemeenskap letterlik dadelik ingespring en gehelp met kos en klere tot blyplek.

“Dit is wat my nie net trots maak op my klas nie maar om ‘n Jeffreysbaaier te wees en te weet dat ons kyk na mekaar.”

Die jong onderwyser meen hy sal enigiets doen om te help en by sy klas te staan en die regte waardes van die lewe te leer. “Hulle gaan nie net slimmer uit my klas uitstap nie, maar wyser om hoe om mense te respekteer en om die waarde van die lewe te erken, en ons as mense te respekteer, ongeag wie hulle is.”

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article